God se Woord in vandag se woorde

Om vir God te kies of nie


’n Vriend van my dogter se pa sterf op die Weskuspad. Dis so tragies. Die seun, as alleenkind, staan die pers te woord. Hy het baie vrae in sy hart oor sy geliefde pa wat so wreed dood is, toe die bestuurder van ’n taxi beheer verloor het.

Tussen die vrae en min woorde, gryp hy na die stukke geloof wat nog oor is en eerlik sê hy in die berig:

“Dis is alles deel van die Here se plan en ons het geen kwade gevoelens oor wat gebeur het nie. Ons vertrou 100% op die Here en Sy plan vir ons gesin.”

Sy manier om sin te maak uit die sinnelose.

In reaksie op die artikel, skryf iemand op sy Facebook-muur:

Die Here se planne.

Wat het met ons gebeur en hoe is ons so Christelik Calvinisties Nasionaal opgef*k opgevoed dat mense glo sulke goed is deel van die “Here se plan”? Count me out. Met so ʼn Here en sy planne wil ek niks te make hê nie. As mens kan glo ʼn God van liefde beraam sulke planne vir ʼn gesin, kan daai mense maar regtig hulle Here vir hulself hou. Ek wil nie deel wees van sulke planne nie.

Lekker slaap. Oppas net vir die Here se planne. Jáá swaer, die gode het vreemde planne. Ai. Ons sal ʼn beter plan moet maak.

Vergewe ons, ons sonde en bewaar ons tog van die Here se planne. Amen.

Ek skud my kop in skaamte dat mense so kan mors. Geen ruimte vir ander se manier van hul pyn verwerk nie. Geen ruimte om ander toe laat om hul eie pad en proses van rou te stap nie.

Wanneer die Hebreërs-skrywer vertel van die nuwe verbond wat God kom sluit het, verstaan ek nie lekker die volgende vers nie:

11Dit sal nie meer vir hulle nodig wees om onder mekaar te sê nie: ‘Jy moet meer erns maak om die Here te leer ken.’ Hulle almal sal My persoonlik ken, klein en groot.

Almal ken nie vir God persoonlik nie, nie as ek so om my kyk en ander se mure raaksien nie. Het die nuwe bedeling dan nog nie gekom nie?

Nee, dit het vir seker nog nie heeltemal gekom nie. Daar is soveel wat nog kies om nie vir God te wil ken nie. Al het hulle gesien, gehoor en ervaar, kies hulle stééds teen God se liefde.

Ek besef maar net weer dat ons harder sal moet getuig, harder moet wys wat God en Jesus in ons lewens reggekry het, sodat ander Hom ook wil volg, sodat ander meer vír as teen God sal kies.

Ja, al verstaan ons nie altyd God en Sy “planne” nie, bly Hy ons hoop en wil ek Hom met alles in my ken.

Teks
Hebreërs 8:7-13

Om oor na te dink
Hoe kies jy?
Hoe lewe jy?
Help jy ander kies?

Gebed
Here, vandag wil ek ander se sonde voor U kom bely, veral die wat so blatant teen U kies. Help my om vir hulle ’n stukkie lig te skyn, sodat hulle kan sien en reg kan kies. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek