God se Woord in vandag se woorde

Omdat ek ’n vriend het


Filippense 3:1-3

Toe ek klein was, was ons baie arm. Ons was ’n hoop kinders en my pa-hulle het nie altyd genoeg geld gehad om vir ons kos te koop nie. Ons het baie aande onsself van hongerte aan die slaap gehuil. Ek dink nie ek het ooit ’n kledingstuk gehad wat nuut uit ’n winkel spesifiek vir my gekoop is nie.

Verjaarsdag- of Kersgeskenke het ons glad nie geken nie. My Pa het ons almal gedwing om te begin bedel van kleins af. Om te sê dit het nie eintlik goed gegaan nie, is totaal en al ’n understatement.

In my Standerd 5-jaar raak ek goeie vriende met ’n seun vanuit die naburige privaatskool. Ons was regtig groot buddies. Sy pa-hulle was ernstig ryk en het een van die grootste hotelgroepe in die land besit.

Ek word toe een Desembervakansie saamgenooi. Watter wonderlike ervaring! Die groot kamers, swembaddens, speelparke! Ek kon net nie genoeg kry nie en ek kon alles verniet kry. Omdat ek my vriend se vriend is, kon ek alles in daardie hotel doen sonder dat enige iemand skeef na my kyk. Ek kon selfs op die beddens spring sonder dat daar met my geraas word.

OK, as ek stout was, het die oom met my geraas, maar nadat ek om verskoning gevra het, was alles weer klopdisselboom.

As my vriend ’n speelding gekry het, was dit vanselfsprekend dat ek ook een gekry het. As hy klere gekry het, het ek ook gekry. Ek het daardie vakansie seker ’n hele nuwe klerekas gekry. Dit moes ’n hoop geld gekos het!

Maar vir my was dit die lekkerste om te eet. Sjoe, ek dink dis waarom ek nou nog met my gewig sukkel! Nee wag! Dit was nie die beste nie. Die vriendskap met my vriend was die kosbaarste. Hy was ’n ongelooflike ou wat net uitgedeel het en werklik vir ander omgegee het. Al het hy alles gehad wat enigeiemand se hart begeer, was sy mission om ander mense te help. Aan die einde van daardie vakansie was ek ’n ander mens…

Ag, hierdie is eintlik net ’n storie wat ek opgemaak het vir ’n spesifieke rede.

Ek wil net op ’n eenvoudige, nie-godsdienstige manier probeer verduidelik hoekom Paulus sê: 3… Ek sê nie dit is ons wat so goed is nie. Nee, ek sê dit omdat Jesus dit vir ons moontlik gemaak het. Omdat Jesus vir ons nooi en ons vriende met Hom is, is ons anders. Omdat Jesus ons vriend is, kan ons ook eendag na die hemel gaan.

Soos in die storie wat ek opgemaak het, kon ek alles doen, kon ek alles kry, kon ek alles eet, net omdat ek bevriend was met die hotelbaas se seun. Net so ontvang ons alles, omdat ons bevriend is met God se seun, Jesus.

Nie omdat ons so goed is nie, maar omdat Hy ons gekies het om saam met Hom te gaan. Omdat Jesus vir ons gekies het as vriende, kies sy Pa ook vir ons. Nou kry ons dieselfde voordele as Jesus.

Nou weet ons dat die Hemelse hotel se beddens vir ons wag om op te spring!

Om oor na te dink

Weet jy wat Jesus vir jou kom doen het?

Leef jy ’n lewe van oorwinning?

Wat maak jy met jou erfenis?

Gebed

Jesus, hierdie is so ’n eenvoudige storie, maar verduidelik eintlik presies wat U vir ons gedoen het. Dankie dat U ons vriend is. Dankie dat ons voordele kry, net omdat ons U vriend is. Ons is so bevoorreg. Amen

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek
Gesels gerus hier!
Hulp nodig?
Hallo👋
Hoe kan ons help?