God se Woord in vandag se woorde

Omgedop en nog ’n keer gebore


’n Vark is nie gepla deur die modder water waarin hy leef nie. Hy’s nog minder gepla om sy kos tussen die modder uit te snuffel. Dis eintlik vir hom lekker daar. Hy verkies dit om so te leef.

Mense wat nog nie vir Jesus as hulle persoonlike verlosser aangeneem het nie, verkies om in sonde te leef. Hulle geniet dit. Hulle kan nie genoeg daarvan kry nie. Die vuil pla hulle nie. Hulle is so gewoond aan die lewenstyl, dat hulle dit verkies bo enige ander lewe.

Ons almal was daar. Ons het nie eens gedink dit is verkeerd nie. Dit was waaraan ons gewoond was en niks daarvan kon ons pla nie. Totdat ons in Jesus vasgeloop het. God se Gees het ons omgedop, ons uit die vuil gemors uitgehaal en aan die ander kant laat staan.

Ewe skielik lyk alles daar van die ander kant af anders. Dis asof die Heilige Gees vir ons ’n nuwe bril kom opsit het. Met hierdie bril raak die lewe in fokus en vir die eerste keer sien ’n mens die modder en die verkeerde dinge raak.

Jy gril daarvoor. Jy wil nie meer in die modder lewe nie en begin wegbeur na die lewe. Jy wil anders lewe, want jy het ’n nuwe lewe. Vir ’n tweede keer het jy by jou geboorte opgedaag en is nou weer, deur die werk van die Heilige Gees, nuut gemaak.

Soos Benna en sy vriend:

’n Goeie vriend van studentejare af – ons het saam klas geloop, saam gestudeer, saam skelm programming codes omgeruil in die labs (!!!), saam woonstel gedeel, saam sport gedoen en uiteindelik saam by dieselfde plek begin werk. Toe getrou – elkeen met sy eie vrou!  ’n Goeie ou, maar nie ‘n geredde siel nie. Ons paaie skei effe as gevolg van werk, maar ons hou egter gereeld kontak. 

Hy bel my die week voor 22 April. “Kom saam Bloem toe.” Wat?! Dis 1 000 km uit die Kaap, is jy mal?! Hoekom? “Om vir ons land te bid.” Vir wat?! Dis reeds in God se hande.

En alles begin in plek val, stuk-stuk. En daar gaat ons, drie van ons. Ek ry met my bakkie, die ander twee gooi diesel in, gooi koeldrank in, gooi biltong in, gooi koffie in. 

Die goeie vriend van my het kragtig tot bekering gekom – ‘n hoogs professionele persoon in hoge posisies, maar hy is nou ‘n vurige, geredde gelowige, sonder om sy skerpheid en humor en stuitigheid te verloor.

Ons het 20 ure op die pad gehad om te gesels oor gebed, geloofsgoed, sport, studiejare, werksjare, diep goed, stuitige goed. Ek het eenders denkende mense ontmoet. 

My lewe is anders man, anders! Ek is ‘n nuwe mens! Ek skop nie meer die katte nie, byt nie meer die honde nie, vloek nie op my werksmense nie, ek bid saam met my kinders en my vrou is mal oor my.

Dis die netto effek. Omgedop, weer ’n keer gebore en skoon.

5… God het ons heeltemal nuut gemaak. Ons is ’n tweede keer gebore toe ons sy kinders geword het. Toe is al ons sondes afgewas.

Teks
Tit 3:3-7

Om oor na te dink
Is jy al omgedop?
Is jy al weer ’n slag gebore?
Watter effek het dit nou op jou lewe?

Gebed
Here, dankie dat U van U kant afgekom het om ons om te dop. Help my om vol te hou met my nuwe lewe en dat ek nie terug sal val na die ou manier van lewe nie. In Jesus se Naam, amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek
Gesels gerus hier!
Hulp nodig?
Hallo👋
Hoe kan ons help?