Om’t ewe
Daar is gedurig iemand wat voorspel dat Jesus op die of daai dag gaan kom. Verlede jaar, met die vierde Blood Moon in ’n ry wat saam met die Bybelse feeste val, het baie gesê dis nou so. Jesus gaan kom. Tog het die dae gekom en gegaan en ons is steeds hier.
Maar dit het ’n ander vraag by my laat ontstaan. Sien ek regtig uit na Jesus se koms? Soos die ou vertaling sê: Ons moet reikhalsend uitsien na die dag wat Jesus weer kom. Ek wonder of ek nie te veel aan die lewe soos ek dit ken, vashou nie. Ek vermoed ek wil hê dat Jesus sy koms so effe moet uitstel.
Die gedagtes laat my ongemaklik.
Paulus help nie veel met my gedagtes nie. Nee, eintlik is dit so ’n tik op die vingers: 21Om te lewe beteken vir my om vir Christus te lewe. Ek kan nog soveel goeie dinge vir Hom doen. Maar om te sterf sal aan die ander kant ook nie vir my sleg wees nie.
Dis vir Paulus om te ewe. As hy in die lewe bly, kan hy nog soveel dinge vir God doen. Hy kan briewe skryf vir die gemeentes. Hy kan op reis gaan en die verlossingsboodskap gaan bring in lande waar nog nooit van Hom gehoor is nie. Mense kan by die hordes van die hel gered word.
Maar as sy kop môre op ’n skinkbord in die paleis se sale ingedra moet word, is dit ook fine, want hy sien só uit na die ontmoeting met sy Vader en die Een wat vir hom aan die kruis gesterf het.
Ek besef dat Paulus dit regkry om nie homself in die oog te hê nie. Vir Hom gaan dit oor ander. Dit gaan oor mense wat verlore is en dit gaan oor sy Skepper. Hy is totaal oorgegee in God se hande.
Ek besef hier is nog baie skaafwerk aan my kant.
Ek was woes lief vir my meisie op universiteit. Sy het al begin werk toe ons na ringe begin kyk het. Toe sterf sy in ’n motorongeluk teen Sir Lowry’s Pas. By haar begrafnis word haar geliefde teksverse gelees: 22Ek moet regtig erken, as ek tussen lewe en dood moet kies, weet ek nie watter een ek sou kies nie. 23Ek voel soos iemand wat in twee verdeel is. Aan die een kant wil ek graag by Christus wees. Wat kan nou beter en lekkerder wees as dit? 24Maar aan die ander kant is dit vir julle beter en selfs nodig dat ek eers nog ’n rukkie bly lewe.
Terwyl sy hier op aarde was, het sy vir seker daardie eerste gedeelte uitgeleef. Kyk, nè, sy het die gemeenskap waarin sy gewoon en gewerk het, omgedop vir die Here. Sy kon nie anders nie. Orals waar sy gegaan het, het sy met haar woorde en haar manier van leef, Jesus vir die mense gewys. Ja, sy het, soos Paulus, Christus gelewe.
En terwyl sy so gelewe het, het sy ook verskriklik uitgesien na die dag wanneer sy haar Verlosser kan ontmoet. Dit was vir haar om te ewe. ’n Voorbeeld vir ons almal.
Ek en jy moet seker maak dat ons die lewe reg leef. Ons moet ons prioriteite regkry. Nee, meer nog. Ons moet ons verhoudings regkry terwyl ons hier op die aarde is en elke oomblik aangryp om Jesus se Naam uit te leef. Terselftertyd moet ons uitsien na Jesus se koms. Albei moet om te ewe wees.
Om oor na te dink
Is jy bang vir die einde?
Hou jy té vas aan hierdie lewe?
Leef jy Jesus?
Gebed
Here, ek wonder baie keer wanneer U kom en dan is ek soms onrustig as ek nie weet nie. Help my, Here, om rustig hieroor te wees. Help my om nou te werk asof U môre kom en daarna uit te sien. Amen