God se Woord in vandag se woorde

Onder wie se beheer?


Wie het die mag oor jou? Wie beheer jou? Wie is die een vir wie jy bang is? As die persoon sê jy moet spring, vra jy dadelik: “Hoe hoog?”

Ek vermoed daar is ’n paar manne wat saggies sal erken dat die persoon hulle vrouens is… Ek spot sommer!

Sonder dat ons dit besef, is baie van ons onder iets of iemand se mag. Byvoorbeeld: Sonder dat ons dit besef, beheer ons lewenstyl dikwels ons lewe. Ons kies ’n sekere lewenstyl en om die lewenstyl te handhaaf, vereis dikwels baie harde werk en minder ure by ons geliefdes.

Sommige moet ekstra ure insit, sommige moet selfs naweke werk net om genoeg geld te kry om die lewenstyl in stand te hou. Nou kan ons nie meer doen wat ons wil nie. Ons kan nie besluit ons gaan die naweek weg nie, want dalk is daar dan te min geld aan die einde van die maand om al die rekeninge te betaal.

Ons gekose lewenstyl met sy hoë kostes beheer ons dan. Ons is nie meer in beheer nie. Iets anders bepaal nou wat met ons tyd gebeur.

Lewenstyl kan vervang word met baie ander dinge: aansien, werk, geld, weelde, drome, begeertes, dinge van die donker en selfs geluk. Op ’n manier kan enige van hierdie so ’n houvas op ’n mens kry dat jy nie meer vry is om jou eie keuses te maak nie.

Vriende van ons het vir 6 maande ’n sabbatical geneem. Hulle het hulle werk gelos en met hulle kinders getoer. Hulle het besef dat daar ander dinge is wat belangriker is as die alledaagse roetine van werk vir goed wat nie belangrik is nie. Hulle het die tyd gebruik om net weer perspektief te kry oor die dryfkrag agter die dinge wat ons doen.

Dalk het dit weer tyd geword om op ’n klip te gaan sit en ’n bietjie oor jou lewe te dink. Dink oor die dinge wat jou beheer. Vra jouself af of dit die moeite werd is om so aan te gaan.

13… Nou staan ons onder die mag van sy Seun. Dit is die Seun wat Hy liefhet.

Net Jesus moet oor ons heers. Sy beginsels moet ons beginsels word. Jesus wil ons in liefde beheer. Jesus se hele wese is liefde. Dis in liefde wat Hy vir ons aan die kruis gesterf het. Dis in liefde wat Hy vir ons van die duisternis na die Lig wil lei. Jesus moet die Hoof van ons hele lewe wees. Wanneer ons besluite neem, moet ons eers by Jesus se voete gaan stilraak om deur Hom in liefde gelei te word.

Teks

Kolossense 1:12-14

Om oor na te dink

Wie beheer jou?

Is Jesus êrens in die prentjie?

Wat moet jy doen om die beheer aan Jesus oor te gee?

Gebed

Here, sonder dat ons dit besef, staan ons onder beheer van iets of iemand anders. Help ons om slegs deur U beheer te wil word en help ons om nie toe te laat dat magte van die donkerte ons beheer nie. U is die Lig en U wil hê dat ons onder beheer van die Lig sal staan. Dankie Jesus, dat U dit vir ons moontlik gemaak het om in die Lig te leef. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek