God se Woord in vandag se woorde

Ons beskerm-engel


In vandag se lewe is baie dinge onseker. Ons is onseker of Eskom genoeg krag kan voorsien. Ons is onseker of die land se ekonomie staande gaan bly. Ons is onseker of die huidige kabinet die wa deur die drif gaan trek. Ons is onseker of alles staande kan bly met al die korrupsie wat orals aan die gang is. Ons is onseker of ons besighede en werk vir altyd daar sal wees. En so kan ons nog baie onsekerhede in ons lewens opnoem.

Die truuk is egter om dit wat wel seker is, bo al die onsekerhede staan te maak sodat die sekerhede die onsekerhede omarm. Daar is één groot sekerheid in ons lewens: 12Ek bid ook dat julle met ’n blye glimlag aan die Vader alle eer sal gee en Hom sal grootmaak. Sê vir Hom dankie. Hy het alles gedoen wat nodig is sodat julle die reg het om vir altyd te wees waar Hy, die groot Koning, heers. Hy sal julle beskerm.

God sal ons beskerm. Te midde van die onsekerhede in ons lewens is daar een sekerheid: God sal ons beskerm. God self sal sorg dat satan nie ’n hou inkry na ons toe nie. God staan elke oomblik van die dag met sy engele rondom jou.

In die onstuimige ekonomiese omgewing waarin ons vandag leef, is dit soms al vashouplek wat ons het! En ek moet erken daar is baie kere wanneer dit vir my voel asof God se engele eers iemand anders gaan help het en vir my alleen gelaat het.

Wanneer die branders so aanhoudend aangerol kom, sien ek nie lig nie. Dan is dit asof elke ding wat met my gebeur negatief is. Daar is niks positief om aan vas te klou nie. Tog moet ons aan hierdie vier woordjies vashou: God sal my beskerm. God sal my beskerm!

Ek onthou nog toe ek in die besigheidswêreld was, hoe ek die woorde keer op keer herhaal het. Wanneer die unie weer ’n afspraak gemaak het om te kom baklei, sê ek: God sal my beskerm! Wanneer kliënte nie wou betaal nie en die krediteure aan die anderkant wag vir ’n betaling, weet ek God sal my beskerm! Wanneer ek met ’n werknemer gesit het wat net wil aanval, weet ek: God sal my beskerm! Ek sê dit fisies oor en oor vir myself. Dit is al waaraan ek vashou: God sal my beskerm!

Want sien, God is té lief vir my. Hy het al té veel vir my gedoen om my nou vir die eerste keer te drop. Dikwels in die verlede het God ons al uit die hande van die duisternis gered. Die eerste keer was daar aan die kruis waar sy Seun moes sterf sodat ons kon lewe.

Maar daar is nog ontelbare kere waar God moes keer dat ons nie in die hande van die duisternis val nie. Dikwels kere waarvan ons nie eens weet nie. Daar het God ons voortdurend gered. Hoekom sal God ons dan nie nou beskerm nie? God se liefde vir ons is net te veel dat Hy sy beskerming sal onttrek.

Nou lyk dit asof ons niks moet doen nie en al die verantwoordelikheid voor God neerlê. Ek glo daarin dat ons die moontlike moet doen en vir God die onmoontlike moet los. Daarom moet ons bly soek na oplossings wat ons na die tafel kan bring. Eintlik is dit soos ’n span wat saamwerk. Ons doen wat ons kan en weet dat God besig is om die deel uit te sorteer wat in ieder geval te groot vir ons is om te doen.

Moenie bang wees nie. Hier is ’n belofte van God: “Ek sal jou beskerm. Los jou kwellings vir my en doen jou deel.” Die gevolg sal wees dat jy en God met ’n groot glimlag sal sit. Hy sal al die eer ontvang.

Teks

Kolossense 1:12-14

Om oor na te dink

Waar kry jy swaar?

Vertrou jy 100% op God?

Glo jy dat God jou rêrig sal beskerm?

Gebed

Vader, ek het U beskerming so nodig. Ek kan nie sonder U en U ondersteuning die wêreld aandurf nie. Help my, Vader, om te alle tye te kyk wat ek kan doen en die res aan U oor te laat. Help my om U te vertrou en te weet dat U my nooit op my eie sal los nie. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek
Gesels gerus hier!
Hulp nodig?
Hallo👋
Hoe kan ons help?