God se Woord in vandag se woorde

Ons het Jesus so nodig


26Vir ons was so ‘n hoëpriester nodig, een wat heilig, skuldeloos en sonder smet is…

Dieselfde dag wat ek hierdie vers lees, het daar op Kruispad ’n boodskap oor pornografie uitgegaan. Ek staan verstom oor die lesers se terugvoer:

DIT IS ABSOLUUT SKOKKEND!! Ek gaan van vandag vir hierdie mense bid. ‘n Mens bid altyd vir siekte en, en, en, maar dink nooit dat pornografie families verniel nie.

En dan hierdie ene ook.

Ek lees vanoggend se stuk en my hart raak sommer diep seer, want sien, my huwelik is verwoes deur pornografie. Ek het as enkelma ‘n man ontmoet wat ek as besonders beskou het. Nadat ons getroud is en ek dus by hom gaan woon het, het ek tot my skok agtergekom hy kyk openlik pornografie en sy twee volwasse seuns loop heen en weer terwyl hy dit kyk. Nou ja, die uiteinde was dat hy my verneuk het, iemand anders gesoek het wat toegee aan sy seksdrange en die gesin is verskeur. Sy een seun het hom onttrek en die ander een het net meer en meer onaangenaam geraak teenoor my. Aaklig, aaklig, aaklig. 

Ek kry nog vele meer. Ons besef nie altyd die impak van hierdie sonde op families nie. Hierdie is ’n siekte wat die duiwel op sy slinkse manier gebruik om mense, mans en vroue, in sy web in te trek, weg van God af.

Dit is natuurlik nie net pornografie wat ’n wig tussen God en die mens inwurm nie. Daar is soveel ander sondes wat ons van God af weglok. Ja, ons doen dalk nie so ’n groot sonde nie, maar êrens langs die pad word ons ook versoek en trap ons in die strik.

Ons almal staan skuldig. Ons almal staan met ’n pak vol sonde, of dit nou oneerlikheid of luiheid is. Of ons nou wegskram vir ons roeping of net eenvoudig nie doen wat ons moet doen nie. Ons almal verdien eintlik die hel.

Gelukkig het God ingegryp en ’n plan gemaak deur eens en vir altyd ontslae te raak van die effek wat sonde op die mens gehad het. Hiervoor was ’n heilige persoon wat sonder sonde was, nodig. Al persoon wat hiervoor gekwalifiseer het, was Jesus. Jesus was die antwoord. Jesus was die perfekte offer wat moes sterf.

Dankie tog dat Jesus bereid was om dié moeilike pad vir ons sondige mense te stap. Ons was in so ’n benarde posisie.

Elke dag moet ons besef dat ons Jesus so nodig het. Elke dag moet ons Hom vra om ons te help om tussen die lyne te leef. Elke dag moet ons Hom vra vir wysheid om te doen soos wat Hy wil, want op ons eie kyk ons op verkeerde plekke, sê ons verkeerde dinge, doen ons verkeerde dinge.

Op ons eie sal ons dit nie maak nie. Ons het Jesus regtig so nodig.

Teks
Hebreërs 7:26-27

Om oor na te dink
Waar maak jy verkeerd?
Besef jy wat jy eintlik verdien?
Besef jy hoe nodig jy Jesus het?

Gebed
Jesus, Jesus, Jesus! Hoe kan ek sonder U? U maak alles vir my moontlik. Sonder U is ek niks. Ek het U so nodig. Elke dag! Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek