God se Woord in vandag se woorde

Ons hoop lê nie in toiletpapier voorraad nie


Baie mense sal in die volgende weke nie kerk toe kan gaan nie. Ons kan hulle wel elektronies bedien. Stuur gerus vir hulle hierdie stuk aan en plaas ebyb@kruispad.com in die CC lyn. Dan sal ons hulle by ons gratis verspreidingslys voeg.

My vrou, Renata, gaan Maandagoggend vroeg Spar toe. Mense het by ons oorgeslaap en die melk was op. Sy vertel van die rakke wat leeg is. Eers dink sy dis seker omdat dit Maandag is dat die voorrade so min is. Totdat sy by die rak kom waar die toiletpapier gewoonlik is. Daar was geen rolletjie toiletpapier in sig nie.

Ek wonder hoekom mense so erg is oor toiletpapier. Die virus val mos nie jou maag aan nie. Ek gaan na oom Google en vra: Why is everyone buying toilet paper? Ek kom op ’n paar interessante artikels af. Die een sielkundige sê dit bring gemoedsrus in onseker tye as jou kaste oorloop van die voorraad witgoud. Ons dink soms nie lekker nie …

Daar is ’n ander artikel op CNN se webwerf met die volgende opskrif: Stop buying toilet paper. Start thinking about what really matters. Ek dink dis ’n goeie voorstel. Besef wat die virus is en wat dit nie is nie. Dit is ’n gevaarlike virus en steek vinniger aan as ’n gewone griepvirus. Dit is ook meer dodelik. Aan die virus self kan ons nie veel doen nie. Maar ons kan die kanse om dit te kry, verminder.

Hier is ’n paar voorstelle:

  1. Was jou hande gereeld met seep en water. Dit is die maklikste en effektiefste manier om van virusse ontslae te raak.
  2. Moenie aan ander raak nie. Dit voel vreemd om ’n meter weg te staan van jou vriende, maar almal verstaan dis slegs ’n tydelike reëling om te keer dat ons mekaar aansteek.
  3. Bly by die huis as jy griepsimptome ervaar. Só keer ons dat die virus verder versprei.
  4. Dra ’n sakdoek en hou hom byderhand vir daai onverwagse nies.
  5. Maak oppervlaktes waaraan mense vat gereeld skoon.

Dis die moontlike wat ons kan doen. Nee wag, daar is nog iets. Ons kan bid. Ons glo mos in gebed. Ons glo mos dat God ons gebede hoor en vir seker iets daaraan doen. Kom ons bid daarom dat God elke mens sal bystaan, veral die oues van dae en veral ook die hoop mense wie se immuniteitsvlakke baie laag is. Mag Hy Sy beskermde arms om hulle vou.

Kom ons bid ook dat God die mediese mense baie wysheid sal gee om gou ’n oplossing te ontdek. Mag God ons help keer aan die virus. Ons God is baie groter as enige virus.

As jou toiletpapier voorraad laag is, gaan koop ’n pak of twee, maar los die res vir die ander. Ons hoop lê mos nie in ons voorraad toiletpapier nie, maar in ons God. Daarom kyk ons op na die berge en lees Psalm 121:

Ek soek oral rondom my na iemand om my te help.
Ek wonder dan: “Wie sal my nou regtig help?”
Die Here sal my help. Hy het alles in die wêreld gemaak.
Jy sal niks oorkom nie. God pas jou op.
Hy sal nie aan die slaap raak as Hy jou moet oppas nie.
Hy pas al sy kinders op. Hy slaap nooit. Daarom sal Hy nie vergeet om jou te help nie.
Die Here is jou oppasser. Hy sal altyd by jou wees.
Niks
(ook nie COVID-19) of niemand kan jou kwaad aandoen nie, al is hy hoe sterk.
God pas jou elke dag op teen allerhande moeilikhede en probleme.
Hy sal jou lewe mooi oppas.
Die Here sal jou oppas waar jy ook al is:
by die huis, by die werk of miskien êrens op pad.
Hy sal jou altyd help, of jy kom en of jy gaan, nou en in die toekoms.

In die moeilike tye, kom ons bely ons geloof hardop saam met Ryan Stevenson:

You are still my God
You’re still my Rock
My only hope, Lord
You’re all I’ve got
In every valley or mountaintop
I’ll say hallelujah
You’re still my God

https://www.youtube.com/watch?v=9B-Jd_qGVBA

Bly kalm en weet dat God aan die werk is.

Gebed

Vader, U weet alles. U sien die onsekerheid, die angstigheid en die verwardheid.  Ons hoop is in U. U is die Antwoord vir al ons probleme. Ons tree vanoggend in vir elke persoon wat deur die Covid-19 virus bedreig word. Ons bid veral vir die senior burgers en die mense wie se immuniteitsvlakke laag is. Here, pas ons elkeen op, asseblief. Amen.

Gerjo Ben

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek