God se Woord in vandag se woorde

Ons Vader kry al die eer


Filippense 4:10-20

Ek is gespanne soos ’n riet. Dis Sondagaand en ek lê lank en rondrol oor die week wat voorlê. Ek wonder hoekom kry ons dit so maklik reg om te lê en worry op ’n Sondagaand. ’n Vriend van my het ’n teenvoeter hiervoor gekry: Hy braai Sondagaande.

Maar ek vermoed ’n braai is te lig in die broek om rêrig die spanning weg te neem.

Ek kry ’n teks wat my op die pad help: 20Aan onse God en Vader die heerlikheid tot in alle ewigheid! (1983-Vertaling) Die teks se sentrale boodskap is om aan God die eer te gee, Hom te aanbid en sy Naam groot te maak. Maar ek steek vas by Vader.

God is ons Vader. Hy is daar om ons hand te neem en soos ’n Vader ons te beskerm. In die verlede was die mens bang vir God en baie het Hom gesien as ’n Vader wat die wat stout is, wil pakgee. Maar Jesus het vir ons die liefdevolle Vader kom wys. Die Vader wat so baie vir sy kinders op aarde omgee dat Hy bereid is om sy Seun aan die dood af te staan.

Ons het ’n Vader wat vir ons tot die dood toe omgee. Hy wil ons beskerm teen die seer en die swaar van die lewe. God wil vir jou en my help. Hy staan saam met ons. Hy veg saam met ons in die stryd. Jy is dus nie alleen nie.

Maandagoggend bid ek en my vrou saam vir die week se hoë tol en ek is soveel rustiger toe ek weet dat ek nie alleen die week hoef in te gaan nie. Ek het ’n Vader wat omgee, wat wysheid het en dit vir my wil aangee, sodat ek die regte keuses by die kruispaaie van die lewe sal maak…

… en ’n klomp spanning val van my skouers af. Ek hoef nie alles uit my eie te doen nie. My Vader, my Pa, wat al die krag en wysheid in die wêreld het, is die heeltyd by my. Dit is vanuit sy krag wat ek die week se dinge aanpak.

In die rustigheid wat oor my neerdaal, besef ek dat ek geen eer kan ontvang nie. Ek besef dat ek nie opgewasse is om die wêreld op my eie aan te durf nie. Daarom moet die gewer van die krag en wysheid, die omgee, die liefde al die eer kry.

Ek en jy moet besef dat al die eer na God toe moet gaan. Hier moet ons spieëls wees, sodat wanneer die mense eer gee, of sê dat ons ’n goeie job gedoen het, al die eer na God weerkaats. In die proses sal die mense vir God raaksien en nie vir ons nie.

Ek sê altyd al die eer behoort aan God, want dis net God wat met ’n krom stok soos ek ’n reguit hou kan slaan.

Dankie vir ’n Vader in die hemel wat vir sy kinders baie omgee en nie sal toelaat dat die bose my en jou onderkry nie. Dankie dat ons nie alleen deur die wêreld hoef te sukkel nie. Aan Hom behoort al die eer vir ewige en ewig, tot die einde toe. Amen

Om oor na te dink

Is jy bang?

Glo jy dat God jou Vader is en regtig omgee?

Gee jy AL die eer aan God?

Gebed

Dankie dat U my Vader is! Dankie dat ek nie alleen die wêreld hoef aan te vat nie. Dankie vir alles waarmee U my help. Sonder U is ek niks. Daarom kom al die eer aan U toe. Van nou af tot in ewigheid! Amen

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek
Gesels gerus hier!
Hulp nodig?
Hallo👋
Hoe kan ons help?