God se Woord in vandag se woorde

Ontmoet jou Bevelvoerder


’n Hele paar jaar gelede was dit verpligtend om weermag toe te gaan. Tydens daardie tyd is jong manne blootgestel aan moeilike tye. Fisies en emosioneel.

Kyk né, dit was nie maklik nie en beslis nie lekker nie. Ons is fisiek gedryf dat ons soms naar geraak het. Ons is emosioneel gedryf tot net voor breekpunt. Op ’n manier het hulle met ons koppe gesmokkel om soos hulle te dink en te doen.

Daar was goeie en slegte ervarings, maar een ding wat ek geleer het, is dat as jy nie saam as ’n span werk nie, is die kans vir sukses nul. As jy nie jou kop by die weermagdinge hou terwyl jy in die weermag is nie, gaan jy ’n fout maak wat dalk jou én ander mede-soldate se lewe kan kos. Die beste kans wat jy het om lewend aan die anderkant uit te kom, is om te doen soos jou bevelvoerder sê.

En net so werk dit in ons geestelike lewe: 4’n Soldaat se werk is om te doen wat sy bevelvoerder vra. Hy moet hom nie besig hou met allerhande ander dingetjies wat niks met sy werk as soldaat te doen het nie.

As soldaat kan jou kop nie op verskillende plekke wees nie. Jy moet skerp wees. ’n Soldaat gee sy gewone lewe op en wy dit toe aan sy roeping om soldaat te wees. Die boer offer sy plaas op, die werktuigkundige maak sy garage toe en die student los sy boeke en doen net dinge wat ’n soldaat doen. (Barnes, e-Sword)

Daar is sommige van ons wat geroep word om voltyds in God se weermag te woel. Die meeste van ons word egter nie alleenlik geroep om voltydse soldate vir God te wees nie. Die meeste van ons word ook geroep om eggenote te wees, kinders groot te maak en in die markplein te swoeg en te sweet.

Tog is ons almal deeltyds soldate in God se weermag. In die alledaagse lewe moet ons weet dat die oorlog nie doer vêr aan die grens is nie. Dis ook hier deel van ons eie lewe. En al is ons nog deel van die gewone lewe, moet ons gereed wees vir oorlog en die aanvalle van die duiwel.

Op ’n manier is dit moeiliker om sulke verdeelde aandag te hê. Die bose weet dit en hy slaan ons die heeltyd op dieselfde plek. Daarom jaag hy ons aan om al hoe besiger te wees met dinge wat niks met God se koninkryk te make het nie.

So wat nou?

Eerstens moet ons besef dat daar altyd ’n geestelike oorlog aan die gang is en dat ons nie ’n keuse het om dit te systap nie. Tweedens moet ons weet dat ons soldate in die oorlog is en dat ons ons moet bekwaam om ’n kans te staan om die geveg teen die vyand te wen. En dan moet ons sorg dat ons in lyn stap met ons Bevelvoerder.

Ons Bevelvoerder weet presies hoe om die oorlog te veg. Hy is die Oorwinnaar wat besig is om nog verder te oorwin. Hy weet watter wapens om te gebruik. Hy weet watter taktiek werk en watter planne ’n mens eerder maar moet los. Daarom maak dit net sin om agter die Bevelvoerder aan te stap.

En dan kom ons weer by dieselfde punt uit: Lees jou Bybel en bid elke dag, want dis hier waar jy jou Bevelvoerder ontmoet.

Teks
2 Tim 2:1-7

Om oor na te dink
Hoe lyk jou oorlog?
Hoe lyk jou gewone lewe?
Is jy gereed?

Gebed
Here, ek wil nie vasgevang word in allerhande dinge wat niks met U te maak het nie. Help my om my oë op U gefokus te hou. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek