God se Woord in vandag se woorde

Ontvang die seën en pass aan


Filippense 4:21-23

Vriende van my is aan die hoof van ’n oesbeskermingsbesigheid. Ek ken hierdie besigheid baie goed, want toe ek in die negentigerjare geboer het, het hulle my gehelp om die wingerdstokke en oes gesond te hou.

’n Tyd terug het hulle saamgesmelt met ’n groot oesbeskermingsbesigheid in die Noorde en ’n groot funksie gehou om dit bekend te stel. Ek is gevra om ietsie te sê. Dit was ’n voorreg om by so ’n groot funksie God se woorde te mag spreek. Dit vertel natuurlik ’n wonderlike storie van groot besigheidsmanne wat weet waar hulle krag vandaan kom.

’n Groter voorreg die aand was om die seën van die Here oor hulle, hulle personeel, kliënte en selfs oor die besigheid uit te spreek. Om die seën van Here oor iemand of iets uit te spreek bring net soveel krag en gee jou iemand om aan vas te klou.

Ek weet dat sulke saamsmelting baie onsekerhede na vore bring. Dis veral vrees vir mislukking wat die stres nog hoër jaag. Niemand kan in die toekoms sien nie en al lyk die somme reg en praat almal opgewonde oor die voordele is daar tog nog ’n stukkie waaroor niemand seker is nie. Dan is dit goed om te weet dat God deel is daarvan en dat hulle nie die pad alleen hoef te stap nie.

Ek sê vir almal daardie aand dat ek wens ek kon vir hulle sê dat daar nie probleme in die toekoms lê nie. Maar ek kan nie. Inteendeel. Hoe hoër die bome hoe meer die wind. Wat ek wel vir hulle kan sê, is dat hulle vir seker ’n binnebaan het, want hulle is nie alleen nie. God is saam met hulle en sal hulle orals langs die pad bystaan en help. Hulle moet net seker maak dat hulle op God se stasie bly.

Ons het al gewoond geraak aan Paulus wat ook die seën van die Here oor die mense aan wie hy briewe skryf, uitspreek en hier aan die einde van die brief van Filippense is dit weer so: 23Mag ons Here Jesus Christus baie goed vir julle wees, ver meer as wat julle verdien. Mag julle hierdie goedheid diep in julle binneste ervaar.

En so spreek ek ook die seën oor jou uit: Mag Jesus vir jou baie goed wees en vir jou meer gee as wat jy kan droom. Mag jy God se goedheid oral ervaar. Mag dit vandag en die dae wat voorlê waar word in jou lewe.

Mag jy die seën ook oor jou familie, vriende en kollegas uitspreek. En nee, jy moenie dink jy kan dit nie doen omdat jy te veel in die hek duik of te min in die kerk kom nie. Ek wil jou aanmoedig om die seën oor ander uit te spreek. Dit sal baie vir hulle beteken.

Om oor na te dink

Oor wie kan jy die seën uitspreek?

Gebed

Wees baie goed vir ons, Jesus Christus, ver meer as wat ons verdien. Laat ons hierdie goedheid diep binne ons ervaar. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek
Gesels gerus hier!
Hulp nodig?
Hallo👋
Hoe kan ons help?