God se Woord in vandag se woorde

Oop en toe hol


Ek is nie gebou om te hardloop nie. Ek is eerder gebou vir liefde.

Tog verstaan ek so-effe iets van ’n wedloop omdat ek al een keer die “Karoo to Coast”-bergfietsuitdaging gery het. Dit was my heel eerste resies op ’n fiets en soos dit maar gaan, het ons nie eintlik ’n fikswordprogram voor die tyd gehad nie.

Die dag van die resies was die ergste in menseheugenis. Dit wind het woes gewaai. Dit het erg gereën. Dit was vrek koud en soms het die ysreën deur ons gesny. Ek het voortgebeur en gedink dit is hoe dit moet wees. Ek het mos geen vorige ervaring gehad nie.

Die bulte op was woes erg. In totaal het ons oor die 1 500 meter geklim. Gelukkig was daar aan die bokant stasies waar ons ons energie weer kon bymekaarmaak met piesangs, sjokoladestafies, doughnuts, energiedrankies en so meer. Die bulte af was vir my so lekker, want met die gewigsvoordeel het ek verby my mederyers gevlieg.

’n Heel paar ure later, met bene wat woes pap was, het ek en my tjommie by Knysna ingery. Dit was ’n lekker gevoel om te weet dit was erg, maar ons het dit suksesvol afgelê.

Ek het omtrent die hele ent terug huis toe in die kombi geslaap en toe ek by die huis uitklim, was ek erg styf, maar het so goed gevoel, want ek het alles gegee.

So moet ons ook maak met ons geestelike resies waarmee ons besig is. Ons moet alles gee: 1… Laat ons soos die ander gelowiges hardloop met alles wat ons het.

Die lewe het baie uitdagings. Baie keer voel ons dat die berg waarteen ons nou uit swoeg, te groot is en dan wil ons moed opgee. Dan wil ons terugdraai en vir God sê dat ons nie meer kan nie. Dit is eenvoudig net te erg. Ons het nie meer krag oor om weer en weer die curve ball te moker nie.

Dis juis hier waar ons ons hakke moet inkap en al het ons nie genoeg voor die tyd geoefen om die bult uit te kom nie, moet ons weet dat die Heilige Gees ons sal help. Hy sal ons krag gee om tot bo te kom en ja, daar sal weer ’n plekkie wees waar ons energie sal kry.

Daar sal weer ’n seisoen van afdraandes wees. Daar sal weer tye kom wat dit makliker sal gaan. Jy moet dit net glo en vertrou dat dit so sal wees.

Met alles in ons moet ons die wedloop aandurf. Elke oomblik van die dag moet ons die aanvalle van die bose afweer. Ons moenie toelaat dat ons spoed gebreek word nie en wanneer die opdraandes hul ongemaklike, onverwagse opwagting maak, moet ons net aanhou vorentoe beur en weet aan die einde van die seisoen sal daar ’n tafel wees waar ons weer ons energie sal kan opbou.

Op ’n manier laat God alles ten goede meewerk. Mos.

Teks
Hebreërs 12:1-3

Om oor na te dink
Hoe lyk jou wedloop so vêr?
Hoe lyk jou opdraandes?
Weet jy van die tafel vir energie aan die bokant?

Gebed
Hemelse Vader, ek is maar al te bewus daarvan dat ek nie sterk genoeg is vir hierdie geestelike resies nie. Die versoeking is groot om soms net in te gee en in ‘n gat van selfbejammering te gaan sit of uitkomste te soek wat ek weet nie binne U wil is nie. U Woord sê as ek swak is, is U sterk in my, so gee my asseblief krag om hierdie wedloop voluit tot aan die einde te hardloop. In Jesus se Naam, amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek