God se Woord in vandag se woorde

Oop harte so groot soos ’n garagedeur


Ons tree vir ’n week in die Noorde by skole en kerke op. Een van my vriende in Gauteng het my goed laat verstaan dat as hy my daar in ’n huurkar vang, hy my gaan foeter. Ek moet net bel, dan sorg hy dat daar ’n kar op my wag.

Op die lughawe voel dit gewoonlik soos ’n toneel uit ’n fliek. Twee motors staan en idle agter mekaar. Ek storm na die agterste een, ruk die agterdeur oop en gooi my tas in. Ek groet sy PA, wat die motor gebring het, skrams. Sy hol na die voorste voertuig, ek spring in my motor en daar trek ons weg. Elkeen in ons eie rigting.

Maar die keer wat ek langer as gewoonlik in Gauteng en Vrystaat optree, ontmoet die PA my in die aankomsaal. Haar verskoning is dat sy nie geweet het hoeveel bagasie ons het nie, maar die werklike verskoning kom eers uit toe ons betaal vir die parkering. Sy druk ’n petrolkaart in my hand en sê my vriend het gesê ons gaan dit nodig kry.

Dis egter nie al nie. Sy haal nog ’n kaart uit, ’n kredietkaart! Sy sê hy het gesê as ons vir verblyf of etes moet betaal of wat ook al, moet ek net die kaart swipe en gee my saggies die kode. Ek staan verbaas. Ek weet nie eintlik wat om te sê nie. Sommige mense is darem net vrygewig. Hulle gee net. Hulle gee net in oortreffende trap. En ek ken my vriend. Dis alles uit dankbaarheid. Dankbaarheid vir wat God doen vir hom en sy broers en hul besigheid. Dankbaarheid vir dit wat God vir hom gee deur sy vrou en sy seuns. En nog…

Ek leer so baie van ’n oop hand by hom.

Nog een van die voorskrifte wat Paulus vir Titus gee is: 8Sy huis en hart moet altyd oopstaan vir ander gelowiges, al ken hy hulle nie. Dit moet vir hom ’n groot vreugde wees om goeie dinge vir ander te doen.

My vriend se huis en hart vir ander gelowiges staan so groot oop soos ’n oop garage-deur. Hy kan homself nie keer nie. Hy dink omtrent nie daaraan nie. Dit gebeur sommer vanself. Ons almal moet so wees. Ja, dalk kan ons nie ’n motor vir iemand vir ’n week leen nie, maar ons kan dalk ’n glimlag gee vir iemand wat teen die grond is. Ons kan sommer aan iemand se arm vat en sê: “Ek sien jy trek swaar. Ek het nie die antwoord nie, maar ek dink aan jou. Ek tree vir jou in by ons Pa.” Net dit is dalk genoeg om daardie persoon se dag beter te maak en deur te trek tot môre wanneer dit beter sal gaan.

Christene moet Jesus se hande en voete wees. Ons oë moet die heeltyd soek na plekkies waar Jesus sou gaan om ander te help. Ons harte moet oop wees om sensitief te wees waar ons ons huise en eie goeters moet beskikbaar stel om ander te help, al ken ons hulle nie.

Dan sal vrede en vreugde ook oor ons spoel, nie omdat ons so goed is nie, maar omdat ons uit dankbaarheid ’n verskil in ander se lewens kon maak.

Teks
Tit 1:6-10

Om oor na te dink
Waar moet jy iets doen?
Wie se name kom by jou op?
Wat moet jy doen?

Gebed
Vader, ek moet bieg dat ek soms te veel in myself intrek en nie ander se nood raaksien nie. Wys my waar ek ander moet help. Ek vra dit in Jesus se Naam. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek