God se Woord in vandag se woorde

Oor vleis, droëwors en geloof


Net die vorige dag kry ek ’n dokument van ’n leser en sy vra vir my wat my opinie is. Die dokument begin so:

Elke keer as ons een van die onderstaande voedselbronne eet (en elke keer as ons vleis en bloed van ‘n ander lewende wese eet) neem ons deel aan ‘n sataniese ritueel. Dit is tyd om nee te sê en nooit weer van die produkte te koop nie.

Hierna volg ’n ellelange lys van kos tot skoonheidsprodukte.

En terwyl ek die dokument lees, sit ek en kou aan ’n wonderlike stuk droëwors! Ek kry ’n groot glimlag en wonder hoe mense so maklik in ’n hoek vasgeverf kan word.

Dis so maklik om vandag met mense se koppe te smokkel en dan eet hulle dit vir soetkoek op (of is dit nou droëwors? 😊). Daarom is ek so dankbaar vir die leser wat eers ‘n bietjie navorsing doen en sekermaak voordat sy agter dinge aanloop wat dalk nie in die regte rigting op pad is nie.

En vanoggend maak ek my Bybel oop om die dag se vers te lees: 9Moenie luister na allerhande verkeerde dinge wat jou op ’n dwaalspoor kan bring nie. Jou geestelike lewe kry krag uit die onverdiende goedheid van God; nie uit al die spesiale kosse en eetgebruike nie. Hierdie gebruike help ’n mens eintlik niks nie.

Dis nie toevallig nie!

Daar is wel baie mense daar buite wat ons op ’n dwaalspoor wil lei. Dalk is dit nie doelbewus nie, maar partykeer kan die dinge wat eintlik op die rand moet lê, die belangrike dinge in die middel oorheers.

Eetgewoontes lê op die rand en moenie bepalend vir ons geloof wees nie. Eintlik word geloof in God deur genade juis van God af ontvang en is vir seker nie iets wat ek doen of iets wat ek eet of nie eet nie. Of soos die vers sê, ons geestelike lewe kry krag uit God se onverdiende goedheid.

Nou hoef ons nie onseker te wees en maklik op ’n dwaalspoor af te glip nie. God het ons so lief, dat Hy Sy Seun vir ons sondes gestuur het en dat Jesus se sterwe aan die kruis die klag teen ons ter syde gestel het.

En hierop bou ons ons geestelike lewe. Dis slegs genade en genade alleen dat ons as kinders van God kan lewe. Ja, uit dankbaarheid wil ons dan sorg dat ons manier van doen hier op die aarde in lyn is met wat God se wil is.

Dankie tog daarvoor. Dankie dat ek nie my plekkie in die hemel hoef in te eet nie. Dankie dat ek vrygemaak is en dat dit nie van my afhang of ek in die hemel kan ingaan nie. Jesus het dit bewerkstellig.

Nou moet ek net sekermaak en toelaat dat die dankbaarheid my dade aanvuur. Dan sal ek nie bang word en rondgeslinger word deur vreemde dogmas en leerstellings nie en kan aanhou kou aan my lekker droëwors …

Teks
Hebreërs 13:9-16

Om oor na te dink
Is jy vry?
Is dit wat jy glo reg?
Hoe seker is jy?

Gebed
Vader, baie dankie vir die hope genade wat U heeltyd oor ons uitstort. Dankie dat ek kan weet dat my geloof van U af kom en nie afhanklik is van dit wat ek doen of eet of nie doen of eet nie. Help my dat my dade aangevuur word deur dankbaarheid vir U genade.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek