Oorborrel en anders wees
Annatjie reageer soos volg op ’n Kruispad-boodskap:
Dis regtig wonderlik om so liefde uit te deel. Ek werk nou al vir vyf jaar in ’n dagsorg in Australië. Ek dra elke dag ’n kruisie om my nek om my deurgaans van die Heer se liefde te herinner. Dis dan ook so dat ek met soveel liefde elke kleinding hanteer. Dis vir my wonderlik om soveel liefde van hierdie kindertjies te ontvang.
My leuse is om so te lewe soos die Woord ons leer: Doen alles wat jy doen soos vir die Heer en nie vir mense nie.
Kan net sê ek is 74 jaar oud en geniet my werk so. Seën en liefde uit Brisbane. Australië.
Annatjie word deur liefde gedryf. Sy kan nie anders nie. Wanneer ’n mens in Jesus se liefde vasloop, is dit te veel om vir jouself te hou. Dit moet oorloop na ander toe. Sy kan nie anders as om net te doen soos die Woord van God sê. Op ’n manier laat sy die vers vir my en jou lewe: 14Christus het sy lewe ter wille van ons opgeoffer om ons los te koop uit die mag van die sonde. Nou behoort ons net aan Hom. Ons is sy volk. Syne alleen! Nou wil ons net doen wat Hy sê!
Vir die eerste keer let ek hier in Die Boodskap-vertaling ’n woord in kursief op. Ek is so nuuskierig oor die gebruik van die kursief hier, dat ek vir Stephan Joubert, een van die skrywers van Die Boodskap, ’n e-pos stuur om hieroor uit te vra.
Sy antwoord: Ek sien die laaste deel van vers 14 in die oorspronklike Grieks soos wat ou doom gesê het, lui: “zelōtēn kalōn ergōn” – letterlik ‘n yweraar of entoesias vir goeie werke! Vandaar die Boodskap – ons wil doen wat Hy sê. Dit is voorop in ons harte.
Dis mooi om te sê, “voorop in ons harte”. Die eerstes wat wil uitkom. Dit kan nie gekeer word nie. Dit borrel sommer net so uit. Soos Susan vertel van haar vriend:
My vriend is op pad Kaap toe en by die tolhek anderkant die Du Toitskloof-tonnel knoop hy, soos gewoonlik, ‘n geselsie met die dame in die hokkie aan. Natuurlik tot die grootste frustrasie van die taxi agter hom.
Ons vriend gaan rustig voort met sy gesprek – wat ek glo oor Koninkrykswerk gegaan het. Voor hy ry, gee hy ‘n ekstra geldjie en sê vir haar sy moet dit neem as die taxi se tolgeld.
Hy ry gewoon aan en later haal die taxi hom in en beduie hy moet aftrek. Hy stop en die bestuurder kom na hom aangestap. Ek weet nie wat die volledige gesprek behels nie, maar “Meneer, jy is anders,” het duidelik deurgekom.
Ek dink dit is tyd dat ons “anders” word.
Ja! Ons almal moet anders word. Ons moet wil doen, want Jesus se liefde, wat aan die voorpunt staan, wil uitborrel. Kom ons gaan soek plekkies waar ons dit kan gaan uitleef. Kom ons gaan wees anders in die wêreld en maak ’n groot verskil waar ons ook al gaan.
Teks
Tit 2:11-14
Om oor na te dink
Is Jesus se liefde voorop in jou lewe?
Waar kan jy dit vandag gaan uitleef?
Gebed
Here, vul my so met U liefde, sodat dit uit my sal borrel. Op my eie kan ek dit nie doen nie. Dit voel dit soms soos harde werk om myself opsy te skuif en vir ander lief te wees. Vul my tog met U krag en U Gees en wys my hoe om te laat gaan en toe te laat dat U deur my werk. In Jesus se Naam, amen.