Op die kierie van geloof
Die skrywer van Hebreërs neem so ’n voëlvlug oor die voorvaders om die lesers te wys hoe hulle geloof hulle laat aanhou en uithou het. Onthou, ons het gesê dat God se stap in die verlede ons help om ons geloofsbril te vorm om in die toekoms in te kyk. As God dan so met die voorvaders gestap het, hoekom sal Hy dan nie ook met ons stap nie?
Jakob was die derde aartsvader na sy oupa Abraham en sy pa Isak. Jakob se pad hier op aarde was vol duwweltjies gesaai. So moes hy sewe jaar vir sy oom werk om sy vrou te kry. Toe vang sy oom hom met ’n slap riem en gee hom die verkeerde vrou. Toe moet hy nog sewe jare swoeg vir sy regte vrou.
Hy het gedroom van lere en moes langs die rivier heelnag stoei met ’n vreemdeling. Tog was hy baie geseënd en het hy 12 seuns gehad. Hy het sy jongste, Josef, so ‘n bietjie voorgetrek en die ander seuns het nie hiervan gehou nie. Daarom het hulle hom aan ’n slawehandelaar verkoop.
Hoe swaar moes dit nie vir die vaderhart gewees het nie! Sy geliefde seun, net weg. En die hongersnood in die land het nie veel gehelp om sy gemoed uit die stof op te lig nie.
Die blydskap was groter as groot toe Jakob hoor sy seuns het kos in Egipte gekry, maar hy het seker oor die maan gespring toe hy hoor dit is Josef wat dit vir hulle gegee het. Kan dit waar wees? Sy seun lewe!
En so sit hy die pad af Egipte toe, waar hy tot aan die einde van sy lewe geleef het.
’n Gewone lewe met oppe en affe. Tye wat dit goed gegaan het en tye wat dit nie so goed gegaan het nie. Tye wat hy seker ook gestoei het met God, want God het hom hierdie wonderlike droom gegee, maar soms was daar swaar tye wat die somme nie sin gemaak het nie. Tog het hy bly vashou aan sy geloof en al het hy nie altyd God se hand raakgesien nie, het hy geweet God is daar.
Daarom, die dag toe hy weet die einde van sy lewenspad hier op aarde het aangebreek, gee hy die stokkie aan: 21Jakob het net so op God vertrou. Toe hy op sy sterfbed gelê het, het hy ook vir sy kinders ’n mooi toekoms beloof. So, terwyl hy op sy kierie leun, het hy met God in aanbidding gepraat.
Hy het aan sy lyf ervaar dat daar ’n God is. Hy het deur sy geswoeg op die aarde geweet dat daar Iemand is wat sy hand neem en hom deur die onbekende lei. Al het dit nie altyd voor die wind gegaan nie, was God altyd by hom. En dit is die God se seën wat hy nou oor sy kleinkinders bid, terwyl hy op sy kierie leun.
Mag ons by oom Jakob leer. Mag ons bly vashou en vertrou en weet en glo dat God daar is, al loop ons soms moeilik deur die lewe. Al gooi die lewe ons met klippe, moet ons weet, by God kan ons skuiling kry.
Mag ons soos oom Jakob ook die ervarings van die lewe gebruik en God se seën oor die mense om ons strooi. Nie net die dag as ons op ons kieries leun nie, maar sommer nou al.
Teks
Hebreërs 11:21
Om oor na te dink
Hoe loop jou lewe?
Ervaar jy God saam met jou?
Ervaar ander God se seën deur jou?
Gebed
Vader, dis goed om te hoor dat ek nie al een is wat soms stoei nie. Ek wil graag U seën meer in my lewe ervaar. Ek wil dit ook graag meer aan ander gee. Amen.