God se Woord in vandag se woorde

Op die regte stasie


Dit bly maar moeilik om te alle tye met wysheid op te tree. Net die vorige aand vergeet my dogter om die skets te laai vir die Kruispadstuk wat uitgestuur moet word. ’n Hele paar duisend e-posse is al uit, sonder die skets.

Ek het dit nie goed gevat nie. My bloed het gekook en die netto effek nie te goed op die mense om my nie, ook nie op myself nie. Ek het toe maar net na 3 weer opgestaan en begin werk.

As ek nou so terugkyk oor die petalje, besef ek dat daar nie veel wysheid in my reaksie was nie. Daar was nog minder wysheid in die manier waarop ek die situasie probeer oplos het. Dit is duidelik te sien in die wysheidlose gevolge.

Ek onthou die teks waarmee ek besig is: 9Vandat ons al hierdie dinge oor julle gehoor het, bid ons aanmekaar vir julle. Ons vra dat God vir julle al die kennis sal gee wat julle nodig het om reg te leef. Mag die Heilige Gees julle duidelik wys hoe julle moet leef.

Aha, ek het die laaste sin gemis. Dis die gedeelte van die Heilige Gees wat moet help. En ek besef ná gisteraand se relletjie dat ek dit nie op my eie maak nie. Op my eie saai ek verwoesting en die mense naaste aan my kry die seerste. Ek wonder of dit ook soms daar by jou gebeur? Ek soek nou maatjies om oor my skuldgevoel te kom.

En ek wonder sommer ook hoekom die Heilige Gees nie Sy werk gedoen het nie? Duidelik het Hy nie vir my die pad gewys nie. Het Hy geslaap of wat?

En dis tipies hoe ons is. Ons wil altyd die skuld op iemand anders pak. Ons is nooit die skuldige party nie. Dis omdat dié of dáái een só gemaak het dat ons nou in die gat getrap het.

Ek vermoed die Heilige Gees hét gewys, maar ek was dalk net te veel aan die storm om dit agter te kom. Ek het al deur loop en val agtergekom dat die Heilige Gees nie so hard praat nie. Hy wil nie oorneem en vir ons besluite neem nie. Nee, Hy sit stil en rustig en gee aanbevelings soos dit nodig is. Maar as ons nie self rustig en stil raak nie, gaan ons Hom mis en moet ons self verantwoordelikheid vat vir die gevolge van ons dade en woorde.

Die wêreld raas daar buite. Dis maar soos die ou storie van die radio wat nog met die knop gewerk het. As die radio nie op die stasie was nie, was daar net ’n gesuis. Dan moes jy eers die knop stadig draai om die stasie te soek. Soos jy die knop draai en die radio op die golflengte van die stasie kom, raak alles duideliker en meer hoorbaar totdat jy elke woord duidelik hoor.

Maar soms kon jy dit in alle rigtings draai, maar geen stasie vind nie. Sulke tye is die terrein dalk rof en is daar ’n berg of twee in die pad. Al manier om die rugby Saterdag te kon hoor, was om die transistor-radio’tjie teen die berg op te neem, daar waar dit stil is en waar daar geen blokkasies vir die sein was nie.

Dis dalk ’n goeie voorstel vir ons elkeen wat so in die hol van die lewe nie veel van die Heilige Gees hoor nie. Dalk moet ons ook na ’n plek gaan waar die gesuis en geraas van die wêreld minder is en waar daar nie blokkasies is nie. Daar sal ons op die stasie van die Heilige Gees kom en duidelik hoor hoe ons elke tree deur die dag moet gee.

Skrifgedeelte

Kolossense 1:9-11

Om oor na te dink

Raak jy ook soms kwaad?

Hoe lyk die gevolge?

Wat sê die Heilige Gees alles?

Gebed

Ons Vader, dankie dat U die Heilige Gees vir ons as hulp gegee het. Dankie dat ons nie alleen deur die wêreld hoef te gaan nie, want ons maak dit nie op ons eie nie. Help ons om stil te word en toe te laat dat die Heilige Gees met ons woel. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek
Gesels gerus hier!
Hulp nodig?
Hallo👋
Hoe kan ons help?