God se Woord in vandag se woorde

Op pad na heiligheid


3Praat ook met die vroue (en mans!) in die kerk wat al ouer is. Sê vir hulle dat hulle lewe moet wys dat hulle die Here ken. Die 1983-vertaling omskryf dit deur te sê ons moet heilig lewe.

Baie van ons is skrikkerig vir die woord “heilig”, want ons kwalifiseer nie om heilig genoem te word nie. Ons weet God is heilig. Ons weet Jesus is heilig en dat Hulle Gees ook heilig is, aldus sy naam Heilige Gees.

So, wanneer Paulus sê dat ons heilig moet lewe, val ek klaar uit die bus uit. Ek voel sleg omdat ek dit nie maak nie en ek wonder sommer hardop of ek ooit deur die poorte van die hemel sal stap? Heiligheid is nie vir my beskore nie.

Maar ek vermoed ons voel so omdat ons nie presies weet wat heiligheid beteken nie. Die oorspronklike Hebreeuse en Griekse woord vir “heilig” beteken om afgesonder of opsy gesit te wees. Ons wat kinders van God is word gevra om ons af te sonder vir God. Ons moet onsself eenkant sit vir God.

Dit beteken dat ons aan God se kant sit en nie aan die kant van die verkeerde dinge nie. Maar tog weet ons dat ons wel so nou en dan by die verkeerde kant inloer en verkeerde dinge doen. Dit moet egter nie ons spoed breek om heilig te lewe nie.

Mense praat altyd van “die pad na heiligheid”, en dit is so. Heiligheid is ’n pad waar ons leer om al hoe minder die pot mis te sit en al hoe meer te doen wat God wil hê ons moet doen.

Dit is dus nie soos ’n deur wat jy oopmaak en deurstap van die onheilige kamer na die heilige kamer nie. Dit is meer soos ’n proses waar ons aanleer om die verkeerde dinge in ons lewe een vir een af te sny. Sommige is maklik, maar sommige verkeerde dinge wat ons doen, is so deel van ons lewe dat ons sukkel om daarvan ontslae te raak.

Waar begin ’n mens die pad van heiligmaking? Eerstens om met ’n pen en papier te gaan sit en die Heilige Gees te vra om die verkeerde dinge in jou lewe vir jou uit te wys. En dis gewoonlik nie so moeilik nie. Die verkeerde dinge in ons lewe pop sommer vinnig voor ons op.

Dan moet ons begin planne maak hoe ons dit uit ons lewens gaan wikkel. Dalk moet ons hulp inkry met sommige. Sommige verkeerde dinge se wortels het so diep in ons ingegroei dat ons self te swak is om dit uit te ruk. Vra die Gees dat jy in die mense wat jou kan help sal vasloop.

Ons hoef nie bang te wees vir die woord “heilig” nie. Ons moenie dink dat ons nooit by heilig sal uitkom nie. Dit is vir elkeen van ons beskore. Daar is tog plekke waar ons reeds vir God afgesonder is, plekke waar ons heilig is. Dit is net daardie plekke waar ons nog struikel, waar ons deel is van die wêreld en nie God se wêreld nie.

Kom ons slaan ’n pen in en vurk al die verkeerde dinge in ons lewe uit. Kom ons probeer ons bes en maak planne om op alle terreine van ons lewe die regte keuses te maak en die regte dinge te doen.

So sal ons die wêreld wys dat ons vir God ken en Jesus lief het.

Teks
Tit 2:1-5

Om oor na te dink
Waar mis jy nog heiligheid?
Skryf dit neer.
Hoe kan jy ontslae raak van die kolle?

Gebed
Vader, ek wil ook heilig voor U lewe. Ek wil in alles afgesonder wees vir U, sodat ander U in my lewe kan sien. Help my om die kolle in my lewe raak te sien. Help my om planne te maak om al hoe minder te struikel. Ek vra dit in Jesus se Naam. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek