God se Woord in vandag se woorde

Paasnaweek: Die hoogtepunt van ons bestaan


Paasfees is die hoogtepunt van ons geloofslewe. Dis die rede waarom ons glo en daarom vier ons fees. Ons vier fees met ’n traan in die oog, want ons stap weer die Via Dolorosa saam met Jesus en Sy swaarkry. 

In my geestesoog sien ek Jesus wat Sy swaar kruis eers alleen moet dra en sleep, terwyl die soldate Hom met swepe slaan. Die sadiste onder die klomp het ook klippies in die sweep gevleg.  

Hoe swaar moes Jesus nie kry nie? Terwyl die lewe druppel vir druppel uit Hom bloei, is Hy omring deur ‘n uitlaggende skare. Dis juis vir hulle en hul sondes vir wie Hy Sy goddelike lewe neerlê. 

Ek kan my nie eens indink hoe barbaars die kruisiging was nie. Die spykers deur Sy polse en Sy enkels. Heel waarskynlik Sy laaste asem uitgeblaas, juis omdat Hy versmoor het.  

Dis hartverskeurend! 

Maar dankie tog dat daar ’n Sondag was. ’n Opstanding Sondag waar God se krag veel groter was as die dal van doodskaduwee. Die volmaakte Lam moes geoffer word om die skuld vir al ons sondes te betaal. 

Hoe wonderlik is dit nie dat as ons ons sondes erken en bely, God getrou aan Sy beloftes is om al ons skuld af te skryf en van ons sondes te vergeet nie. Jesus het klaar ten volle daarvoor betaal en ons Ewige Lewe het reeds begin. 

Ek bid dat jy en jou geliefdes hierdie Paasnaweek weer aangeraak sal word deur die wonderlike liefdesdaad van ons Vader en dat julle op ’n spesiale manier weer Sy teenwoordigheid deur Sy Heilige Gees sal ervaar.  

Mag jy hierdie wonderlike nuus deel met al jou geliefdes. Mag jy hierdie feesnaweek gebruik as aanknopingspunt om mense van ons wonderlike en liefdevolle Vader te vertel. Mag jy met hulle deel wat Jesus in jou lewe gedoen het, steeds elke dag doen en nog sal doen.  

Mag die wêreld om jou anders word, omdat die opgestane Jesus ’n werklikheid in jou lewe is.  

Ek nooi jou uit om Vrydag aan te sluit by ons waar ons deur die oë van die Centurion, die man wat Jesus aan die kruis vasgespyker het, na Jesus aan die kruis gaan kyk. Johan Laten lewer ’n aangrypende vertolking hiervan. Hier is die skakel: https://youtu.be/-V2D3axu1Xc

Ek en Johan het ’n toneelstuk geskryf vir Opstanding Sondag: Die ander man aan die kruis. Nooi gerus almal om saam met julle na hierdie onbeskryflike ware verhaal te kom kyk. 

Mag die genade van ons liefdevolle Vader, die liefde van Jesus Christus en die nabyheid van die Heilige Gees heelpad saam met jou en jou geliefdes wees. 

Baie seën! 

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek