God se Woord in vandag se woorde

Painting in the making


Filippense 2:12-17

Ons moet besef dat elkeen van ons se prentjie nog nie klaar geverf is nie. Daar is nog kolle wat werk nodig het. Ja, ons is ’n painting in the making. Ons lyk nog nie presies soos God se prentjie van ons nie. Daar is plekke waar sonde nog te veel ’n houvas op ons het en wat die hele prentjie bebodder.

Ons oorspronklike prentjie trek weg van God af. Soos ’n stout kind wat skop en skree om uit die greep van sy ma te kom en oor die gevaarlike pad te wil hol, so beur ons gedurig in die teenoorgestelde rigting as wat God wil hê ons moet gaan.

Gelukkig los God nie ons hand sodat ons op die gevaarlike speelterrein op ons eie rondhol nie. 13Hy is met julle besig as julle voel julle wil iets doen wat Hom gelukkig sal maak, en as julle dit uiteindelik doen, is Hy steeds by julle. Ja, dit is Hy wat so in julle werk.

God sien die ware prentjie. Hy weet presies hoe ons moet lyk en Hy weet ook hoe ons daar moet uitkom. Daarom werk Hy in ons. Hy gebruik die alledaagse dinge wat oor ons pad kom om ons te vorm, om ons voor te berei en gereed te kry vir dit wat Hy eendag deur ons wil doen.

Eintlik is dit wonderlik om te weet dat God ons elkeen so liefhet dat Hy ons nie los nie. Hy wil nie hê dat ons ons roeping moet mis omdat ons prentjie nooit voltooi is nie.

Baie keer is ons in situasies waar ons net wil uit. Soos ’n stout kind gooi ons ons speelgoed uit die cot. Ons raak kwaad. Soms skree ons selfs op God. Die een vraagteken na die ander staan agter ons sinne en ons verstaan nie. Ons verstaan nie hoekom ons nou weer deur die slegte pad vol gate moet stap nie.

Nee, ek het ook nie altyd die antwoord nie. Ek weet nie hoekom siekte en dood en bankrotskap en pyn en verhoudings wat sneuwel en haat en alleenheid en seer en harte wat bloei en ongeluk en teleurstelling en al die slegte dinge ons so tromp-op loop nie.

Maar wat ek wel weet, is dat God die life issues waardeur ons worstel, gebruik om ons te vorm. Hy gebruik die swaar dinge om die prentjie van ons klaar te verf. Hy verf bo-oor die grys kolle helder blomme vir almal om te sien.

Die prentjie van God met die kwas in die hand wat besig is om my skildery reg te trek is mooi, maar wat beteken dit in werklikheid? Ek dink sonde veroorsaak dat ek myself altyd eerste wil plaas. Ek lewe die lewe met ’n vreeslike gesoek na wat ék daaruit kan kry. Dis egosentries en die grys gedeeltes in God se skildery van my.

In my swaar raak ek bewus van ander se nood. My oë gaan oop vir die behoeftes van ander. Ek staan nie meer sentraal nie. En dis hier waar God se prentjie met blomme inkom. Ek begin doen waarvoor ek op die aarde geplaas is en dit is om ander te help. Dis hier waar God gelukkig raak – nie net oor ons prentjie wat begin vorm aanneem nie, maar ook omdat ons Sy wil doen.

Eintlik is dit ’n groot troosboodskap. God woel met ons. God werk die heeltyd met ons. Deur die goeie tye, maar ook deur die swaar tye is God besig om ons skildery klaar te maak.

Mag ons so lewe dat God tevrede is en baie genot uit ons prentjie kry. Mag ons altyd onthou dat God besig is met ons painting in the making. Hy sal ons nooit alleen los nie. Dankie tog!

Om oor na te dink

Hoe lyk jou prentjie?

Sien jy God se hand raak?

Sien jy die ander om jou raak?

Gebed

Ons Vader wat in die hemel is, dankie dat U nie daar gebly het nie. Dankie dat U nou hier op die aarde is, hier in ons elkeen is en saam met ons verf. Help ons om ook in die swaar tye te onthou dat U daar is en dat U dit gebruik om ons te vorm. Amen

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek
Gesels gerus hier!
Hulp nodig?
Hallo👋
Hoe kan ons help?