God se Woord in vandag se woorde

Pak slae bring tog respek


’n Vriend vertel dat hulle ’n winkel op die platteland gehad het. As hulle kinders gevang het wat gesteel het, het hulle die ouers laat kom. Die ouers moes dan die kinders sommer daar pak slae gee, as straf vir die diefstal.

Hulle het later die praktyk gestaak, want die ouers het die kinders te rof geslaan. Hulle moes die ouers later keer, anders het die bloed geloop.

Ek verstaan waarom daar wette is om nie kinders te slaan nie. Sommige ouers weet net nie waar om die streep te trek nie. Tog bly dit jammer, want ’n ordentlike pak slae het my as kind baie goed gehelp om te weet wat is verkeerd en wat is die regte pad om te stap.

My pa kon slaan. As jy verkeerd gedoen het, kon jy maar solank een van die rottangs uit die arsenaal gaan kies. Die hele pakgee-proses was egter in liefde gedoen. My pa het die heeltyd verduidelik hoekom hy dit doen en dan afgesluit met: “Ek doen dit omdat ek jou liefhet.”

Alhoewel ons op daardie stadium dit glad nie verstaan het nie, eintlik boos was vir my pa en die pad na die buurtannie wou vat, verstaan ek dit vandag. As ’n pa lief is vir sy kind, moet hy of sy gestraf word. Vandag moet ’n mens egter baie meer kreatief wees om dieselfde effek as ’n goeie pak slae te kry.

Behalwe dat die straf ons help om te weet waar loop die verkeerde en waar loop die regte pad, gee dit ons ook respek vir ons ouers. Hulle is so lief vir ons dat hulle bereid is om ons reg te help. Dis nie lekker om jou kind te straf nie.

Ons wil eintlik op ’n manier in hulle plek die straf vat, maar ongelukkig moet hulle self voel, anders sal die straf nooit die regte uitwerking hê nie. Om jou kind te straf trek amps, maar jy weet dit is op die ou end ter wille van hulleself wat dit gedoen moet word.

Dit is dieselfde boodskap wat ons die afgelope tyd uit die skrywer van Hebreërs se pen kry: 9Ons almal het ’n aardse pa gehad wat ons soms gestraf het. Dit het ons respek vir hom gegee. Hoeveel te meer moet ons nie na ons geestelike Vader luister nie? Dan sal ons regtig leef.

Straf leer ’n mens om reg te kies in die lewe. Straf bring respek vir ons ouers en vir God. Dit maak ons ore oop om in die wêreld te onderskei. En die netto-effek hiervan, is dat ons die lewe hier op aarde in al sy volheid kan leef.

Jy sien, sonde en verkeerde dade breek ons spoed. Dit steel nie net ons vryheid nie, maar ook ons vreugde en vrede. Straf help ons om ontslae te raak van die sonde en verkeerde dade en dan kan ons voluit leef.

Wanneer ons met so ’n bril kyk na die swaar waardeur ons dalk nou gaan, maak dit sin. Dan kan ons vrede maak. Dan kan ons regmaak. Dan kry ons respek vir God. Dan hoor ons Hom beter en begin ons die regte dinge te doen. En dis dan wanneer ons werklik vry kan lewe en die lewe ten volle kan geniet.

Teks
Hebreërs 12:7-11

Om oor na te dink
Hoe sien jy jou swaar?
Hoe sien jy God die Vader?
Wat leer jy moet jy anders doen?

Gebed
Ons Vader, my Vader. Dis nie vir my maklik om U te sien as ’n Vader wat straf nie. Maar ek sal probeer. Help my om te sien waar ek verkeerd doen en die regte pad te kies. In Jesus se Naam, amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek