God se Woord in vandag se woorde

Paraat: gereed, oorgehaal, slaggereed


Die woord wat ek die meeste van die weermag onthou, is paraat. Dis so in ons ingedril, dat ek vandag nog die stafsersant oor die paradegrond hoor bulder: “Troepe! Ek sal die civvie-houding stukkie vir stukkie uit julle wurg, sodat daar plek kan kom vir paraatheid, want dit is wat jy nodig het vir oorlewing hier in die weermag.”

Met ’n geswoeg en gesweet, ja, soms bloedsweet, het die weermag dit reggekry om ons paraat te maak. Ons is gedril en om bossies gejaag. Ons is geleer om druk te hanteer en nie ’n oog van die visier af te haal as die skote om jou klap nie. Ons was goed voorberei en ten alle tye paraat.

Een gedeelte van paraat beteken dat jy altyd gereed is en enige tyd van die nag of dag reg staan om te doen wat daar van jou verwag word. Of dit nou is om ’n medemakker wat raakgeskiet is, op die skouer te tel en na die wagtende helikopter te dra, en of dit nou is om heel voor die onbekende in te stap en nie te weet wat alles daar skuil nie. Paraatheid laat jou dit doen.

Paraatheid beteken ook dat jy presies weet wat om in elke situasie te doen. Maar meer nog, jou hele wese is ingestel om enige aanval, enige afwyking van die normale, fyn op te tel. Wanneer jy paraat is, is jy altyd gereed, oorgehaal en slaggereed vir wat ook al na jou kant toe kom.

In ons lewe vandag moet ons op baie plekke paraat wees. Ons moet paraat wees oor ons veiligheid. Net voor ek stil word, gaan ek vinnig deur my WhatsApp-boodskappe. Een van my vriende stuur ’n video van ’n vrou wat haar pakkies in die kar pak. Twee mans omsingel haar, klim saam met haar in die motor en ry weg. Dis sleg! Ons moet so paraat wees.

Ons moet paraat wees oor ons finansies en seker maak dat iemand ons nie om die bos lei en met ons geld wegstap nie. Ons moet paraat wees in ons werk, sodat wanneer die afleggings kom, ons nie in die ry staan om afgelê te word nie. Ons moet paraat wees in ons verhoudings en seker maak daai ou met die vuil vingers kom dinges nie alles op nie.

So moet ons paraat wees in ons verhouding met God en seker maak dat dieselfde ou nie met sy vuil vingers ons hier om die bos kom lei nie. Nie vir ons nie en ook nie enige iemand anders in ons invloedsfeer nie.

So maklik raak ons so deel van die wêreld en word ons oë verblind vir die ongelooflike belofte van God dat ons eendag saam met Hom in die hemel sal wees. As ons, of enige iemand om ons, na die wêreld se ligte gaan staar, gaan ons blind raak vir die belofte. Hier moet ons paraat staan. Ons moet weet die vyand is aan die kom en slaggereed en oorgehaal staan vir sy slinkse planne.

Lees hier: 1Terwyl die belofte om in sy rus in te gaan nog van krag is, moet ons oppas dat dit nie miskien later blyk dat een van julle agtergebly het nie. (1983-vertaling)

Wees paraat dat jy, of een van die wat naby jou is, nie die bus mis nie!

Teks
Hebreërs 4:1-6

Om oor na te dink
Is jy paraat?
Verwag jy die aanvalle?
Hoe help jy ander?

Gebed
Vader, ek weet die aanvalle kom. Ek voel dit gedurig en ek weet dat ek dit soms nie maak nie. Help my om meer paraat te wees. Help my om op te staan en ander te help wat van die pad af is. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek