God se Woord in vandag se woorde

Pasop vir wolf in skaapsklere


Toe ek in die weermag was, was dit maar ’n rowwe tyd. Ek was deel van die Meg Infanterie eenheid en daar was gereeld groot operasies waar die vyand met mag aangeval is. Daar het egter baie energie ingegaan in die beplanning van so ’n operasie. Elke afdeling het sy take gehad en almal moes saamwerk om ’n sukses daarvan te maak.

’n Groot gedeelte van die sukses was egter afhanklik van ons kennis oor die vyand. Ons moes goed geweet het waar hulle was, hoeveel hulle was, watter wapens hulle by hulle het, ens. As die kennis van die vyand beperk was, was die kans op sukses maar aan die dun kant en die gevaar om self iets oor te kom net soveel groter.

Net so is dit baie belangrik dat ons ook ons vyand in die geestelike wêreld ken. Ons moet weet wat sy truuks is sodat ons daarop voorberei kan wees. Hy is ’n werklikheid en hy gebruik al sy kragte om mense van die pad af te lok. Paulus was bang dat die duiwel dalk die nuwe kinders van God in Tessalonika van die pad afgestoot het: 5… Ek wou baie graag weet of julle nog glo. Ek was benoud dat die groot verleier julle dalk verlei het om terug te val in julle ou sondes.

Lammertjies is ’n maklike teiken vir roofdiere, want hulle is nog nie opgewasse om hulleself teen gevare te beskerm nie. Net so is jong Christene ’n maklike teiken vir die bose. Sodra die pad te swaar raak, kom die eerste onsekerheid. Die duiwel wil hulle dan ander waarhede vertel om hulle so van die pad af te trek. Daarom is dit belangrik dat ons jong Christene sal omarm en dra. Ons moet ons eie swaarkry met hulle deel. Ons moet vertel van die kere toe ons amper handdoek ingegooi het, maar met die genade van Bo nie gestruikel het nie. So kan ons ander help sodat hulle geloof nie gesteel word nie.

Maar uit ondervinding weet ons ook dat die duiwel nie sy aanvalle beperk tot jong Christene nie. Dis so waar dat daar nie ’n lui haar op sy kop is nie. Hy hou nooit op nie. Om elke hoek en draai staan en wag hy vir jou en hy probeer voortdurend om jou van die pad af te lok. Ons moet dit weet. Orals waar ons gaan, kan hy soos ’n wolf in skaapsklere opdaag.

Die meeste van die kere is die versoekings nie so groot nie. Dikwels weet ons nie eens dit is versoekings nie. Hoeveel keer in my lewe het ek al so besig geraak met die dinge van die Here dat ek die Here van die dinge vergeet het? Die duiwel sal my nie probeer versoek om ’n bank te beroof of êrens iemand se goeters te steel nie. Nee, hy sal my eerder aanjaag om nóg meer te doen, want hy weet – as ek so hol, sukkel ek om stil te raak en by God uit te kom.

Ons moet ons vyand ken. Ons moet weet waar hy in skaapsklere gaan opdaag. Ons moet voorbereid wees sodat hy ons nie van die pad af lok en só ons geloof steel nie. Kom ons bid vir versterkings sodat die Heilige Gees en die engele ons sal beskerm en ons hande sterk maak om opgewasse te wees teen die aanvalle van die vyand. Maar meer nog – kom ons help ander om ook staande te bly. Kom ons neem mekaar se hande en hou dit styf vas, want dan sal die vyand nie ’n kans hê nie en God se Naam sal geëer word.

Teks

1 Tessalonisense 3:1-5

Om oor na te dink

Waar probeer die duiwel in jou lewe kom?

Waar het jy al geval?

Hoe kan jy sterk staan teen die aanvalle van die Bose?

Gebed

Vader, ons kan so maklik van die pad gelok word. So maklik verloën ons U. Ek besef maar net weer dat ons nie op ons eie staande kan bly nie. Ons het die Heilige Gees elke oomblik van die dag nodig. Mag Hy ons altyd bystaan. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek