God se Woord in vandag se woorde

Passievolle lewe


Filippense 2:19-30

Ek en ’n vriend sit om die kampvuur en hy vertel my van sy werk. Hy vertel dat hulle besigheid studente wat op akademiese vlak sukkel se hand neem en hulle deur verdere opleiding bemagtig om die werksmag te betree. My vriend plaas dan ook baie van die studente in groot maatskappye.

Hy sê egter dat hy nooit iemand sal plaas as hy nie ’n lang tyd saam met die persoon gestap het nie. Hy wil die persoon eers leer ken, verstaan waaruit hy of sy gemaak is en waar hulle sal inpas. Op ’n manier skets my vriend ’n prentjie van die persoon in die saamstap-tye en dan weet hy waartoe die persoon in staat is en natuurlik waartoe nie.

Sommige van die studente steek sommer van die begin af hulle hand op en dit is maklik om hulle by enige maatskappy te plaas. Hulle is honger vir werk. Hulle sal alles gee om net ’n werk te kry en hulle voete in die arbeidsmag se deur te kry. Daar borrel net ’n onkeerbare klomp energie uit wat die wêreld wil verander. Daar is geen keer aan hulle nie.

Dit is soos Epafroditos wat vir Paulus kom help het toe hy in die tronk was en sy wiele so effe afgeval het. Epafroditos was nie bang vir werk nie. Hy sou enige iets doen om sy werk reg te doen. Hy sou seker in die vuur ook gespring het, net om seker te maak dat hy sy werk reg doen. Toe hy op die ou end moes terugkeer na sy moederdorp, skryf Paulus die volgende oor hom: 30Hy was nie bang om selfs sy lewe te waag om alles vir Jesus te doen wat hy kon nie. Hy was amper dood, en dit om vir my te doen wat julle nie kon nie omdat julle so ver is.

Dit is darem ’n ongelooflike getuigskrif oor iemand se lewe. Tot die dood toe was hy bereid om ’n pad saam met Paulus vir die Here te stap.

Ai, en ongelukkig kan ons dit nie van alle mense sê nie. So baie keer is ek gevra om ’n referent vir mense wat vir my of saam met my gewerk het, te wees. Vir baie van die mense was dit maklik. Ek kon reguit ’n klomp positiewe karaktereienskappe van hulle opnoem en aanbeveel dat hulle bevoegd is vir die werk en baie energie na die besigheid sal bring. Mense wat nie bang is vir oortyd werk nie. Mense wat die besigheid se belange op die hart dra en saam swaar sal kry en hulle volle gewig sal ingooi om dit te maak werk.

Met ander was dit nie so maklik nie…

Ek dink ons moet dalk weer gaan kyk na ons eie lewe. Ons sal moet gaan kyk na die energie wat ons uitpomp en met watter entoesiasme ons alles aanpak. Trek ons die heeltyd swaar, is dit nie vir ons lekker om op te staan nie of kan ons nie wag om op te staan en die dag by die horings te pak nie?

God het vir ons elkeen ’n groot klomp talente gegee. Wanneer ons ons talente gebruik en ons passie uitleef, gee dit gewoonlik energie en dan kan jy nie ophou om te doen waarvan jy hou nie. Selfs al is jy tot die dood toe moeg, of al is jou lewe in gevaar, kan jy eenvoudig net nie ophou nie. Dis jou passie. Dis jou droom.

Die lewe is te kort om dit op verkeerde dinge te mors. Sorg dat dit wat jy deur die dag doen, jou passie is en jou energie gee. Sorg dat die talente wat God jou gegee het daar waar jy werk ten volle gebruik word. Maak ook seker dat jy alles vir Jesus doen.

Dit is ons opdrag.

Om oor na te dink

Gee of tap jou lewe jou energie?

Lewe jy jou droom?

Wat staan jou te doen?

Gebed

Here, dankie dat ek my droom kan uitleef. Tog weet ek dat daar so baie mense daar buite is wat nie doen wat hulle wil doen en waarvoor hulle aangelê is nie. So baie doen nie waarvoor U hulle geskape het nie. Help hulle. Laat hulle oë oopgaan en laat hulle lewe volgens U wil. Amen

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek
Gesels gerus hier!
Hulp nodig?
Hallo👋
Hoe kan ons help?