Pornografie: Verwoes
Die impak van pornografie is groot. Kom ek gee jou ’n kykie in ’n slagoffer se hart:
Ek is ongelooflik lief vir my man en ek glo hy is net so lief vir my, maar hy is verslaaf aan pornografie. Ek het onlangs weer op sy foon gesien hoe hy op ‘n webtuiste na naakfoto’s en foto’s van ander vrouens met byna niks klere aan nie, gekyk het.
Hy het ook vriende wat gereeld vir hom vieslike video’s op sy foon stuur. Ek kan dit nie meer hanteer nie en wanneer ek met hom daaroor praat, raak hy baie kwaad vir my. Die gevolg is dat ek nou eerder stilbly daaroor.
Dit veroorsaak dat ek voel ek is nie goed genoeg vir hom nie. Ek is nie mooi of sexy genoeg vir hom nie. Dit laat my eintlik voel dat hy glad nie meer vir my omgee nie. Ek kan nie spontaan teenoor hom wees en hom drukkies en liefde gee nie.
Dit voel vir my hy gebruik my net vir een ding …
Ek wens so hy wil besef dat as dit ek was wat sulke foto’s en video’s van naakte mans gekyk het, hy net so ongelukkig sou wees, maar dit druis in teen my christelike beginsels en ek sal dit nooit doen nie.
Dit voel eintlik vir my hy is ontrou aan my deur net na hierdie foto’s en videos te kyk. Dit breek my hart …
Kan hy dan nie dink wat dit aan my doen nie?
Pornografie verwoes en maak dood. Dit ruk huwelike uitmekaar en verskeur verhoudings. Dit trek ’n dik streep deur die mooi wat God vir ons mense gegee het.
Met alles in ons moet ons daarteen veg. Met wortel en tak moet ons dit uit ons lewens uitruk. Ons moet hande vat en mekaar help, want op ons eie gaan ons sukkel. Alles verdwyn nie net en keer terug na normaal met die klap van die vinger nie. Dis ’n groot gesukkel om jouself hier weg te skeer. Soos Piet (skuilnaam) al te goed weet:
Jis man, ek sukkel vreeslik! Nes ek dink ek het gewen, dan boul die duiwel my vir ‘n ses. Hierdie twee laaste dae het hy my nou weer van vooraf mislei (met die porn-ding).
Dan voel ek so vuil dat ek nie eers my stiltetyd wil hou nie.
Dan dink ek aan koning Dawid. Hy was ook nie op die plek waar hy moes wees nie. Toe sê die duiwel vir hom: “Kyk daai kwaai girl!” Sy het nie klere aan nie. Ek wonder wat het in sy kop aangegaan?
Ek weet nie of ek so sterk sou wees nie.
Dis ’n gesukkel vir baie. Baie voel vuil en kruip vir God weg. Tog moet elkeen wat hier sukkel, besef dat pornografie ’n wig indring, nie net teen God nie, maar ook teen geliefdes.
Wees eerlik oor jou swakheid. Neem dit na God toe en vra Hy moet met Sy Gees jou help. Kry ook vir jou ’n vertroueling wat saam met jou die pad kan stap. Saam is ook hier oorwinning net om die draai.
Mettertyd sal hierdie dan ook van ons hede na ons verlede skuif: 3Vroeër het ons ook in dwaasheid geleef. Ons het ons glad nie aan God gesteur nie. Ons was op die verkeerde pad. Die sonde was ons baas. Ons kon eenvoudig nie genoeg daarvan kry nie. Die een afstootlike sonde na die ander was ons kos. Seksuele begeertes het ons vernietig.
Nou is ons anders.
Teks
Tit 3:3-7
Om oor na te dink
Sukkel jy hier?
Kan jy eerlik jou probleem vir God gee?
Wie kan jy met jou probleem vertrou?
Gebed
Here, hierdie sonde hou my vas! Dit is ‘n krag wat vir my sterker voel as wat my weerstand is. Help my asseblief om vry te kom. In Jesus se Naam, amen.