God se Woord in vandag se woorde

Praat ander moed in


Dit gaan nie goed daar buite in die wêreld nie. Die storms is woes. Dis asof die swaar seisoene waardeur ons as mense moet sleep net meer en meer word. Ek kry daagliks e-posse van mense wat net nie meer die lig sien nie.

Baie sit vas in groot finansiële krisisse. Baie sit sonder werk. Baie sit selfs sonder kos vir die kinders. Sommige worstel met hul geloof en bid teen die dak vas. Ander se verhoudings is aan flarde geskeer. Sommige sê reguit hulle gaan nou ’n einde aan alles maak.

Dis mos sulke tye wat ek wens ek het ’n reguit lyn na Bo, sodat ek elke sin, elke woord, elke letter wat ek vir elke persoon in sy unieke nood kan gee, in die rooi telefoon se gehoorbuis kan fluister.

Maar helaas.

En tog hou God Hom nie doof vir Sy kinders se geroep nie. Inteendeel, nog voor die krisis aan ons deur geklop het, het Hy al vir ons troos gebring. In Sy Woord.

Jy sien, in God se Woord leer ons Hom ken. Ons leer Sy hart en hoor hoe dit vir Sy kinders klop. Deur Sy Woord sien ons hoe Hy ’n pad saam met Sy volk en Sy kinders stap. Ons sien hoe Hy omgee en weer en weer vergewe.

Nou hoekom sal God dan nie ook vir ons, Sy kinders vandag, omgee nie? Vir seker sal Hy, want Sy hart het nog geen druppel verander nie en pomp net liefde vir ons. En God doen dit deur Sy Woord, vandag nog: 9Die Here se Woord waarin hy self onderrig is, moet die anker van sy lewe wees. Dan kan hy hierdie betroubare kennis gebruik om ander gelowiges moed in te praat en te troos.

My skoonpa stuur vir my die storie aan:

In die konsentrasiekamp, meer as 100 jaar gelede, sit Anette Marais op ’n stomp en skud die stof … van haar verslete klere af.

Rondom haar sit die groepie bekende gesigte van moeë vrouens. Net ’n paar treë verder is die hoë draad van die konsentrasiekamp. Sy slaan haar Bybel oop en begin lees. Sy het in die donker ure van die nag geworstel met God en Hom gesmeek vir ʼn boodskap om hierdie vrouens te bemoedig, want wie weet hoe lank nog …

Anette lees die woorde van Matteus 10:29, “Is twee mossies nie vir ’n sent te koop nie, en tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie.”

Terwyl sy besig is om hierdie woorde te lees, kom sit daar ’n vaal klein mossie op haar skouer.

Die groepie vrouens staar in verbasing na wat voor hulle gebeur, en so word die mossie die teken van hoop in die onmoontlike omstandighede van die konsentrasiekamp in Bethulie.

Dit was fantasties om in die maande wat volg te sien hoe die mossies van Bethulie ’n baken van geloof en hoop vir hierdie vrouens word.

Op 21 Mei 1902 was die oorlog verby. Anette het op pad terug na haar huis by ’n vrou met invloed gestop en haar vertel van die mossie-boodskap. Sy het dit weer oorvertel en generaal Jan Smuts het in 1923 die mossie op die land se kleinste muntstuk (kwartpennie) laat verskyn.

Amper 80 jaar later sit Jak de Priester in ’n park in Londen. Sy geld is op, hy kry nie werk nie, hy mis die meisie van sy drome en sonskyn en biltong. Hy slaan sy klein silwer Bybeltjie oop en lees die “mossie”-boodskap en bid vir die soveelste keer vir werk!

Vroeg die volgende oggend lui sy telefoon en dis die oproep waarvoor hy gewag het. Hy spring op die eerste trein en begin met ʼn lang dag se onderhoude. Moeg maar gelukkig en met ’n permanente werk, klim hy weer laatmiddag op die trein.

Toe hy inklim sien hy ’n muntstuk op die vloer lê. Hy tel dit op, en daar op ’n trein in Londen hou hy ’n Suid-Afrikaanse 1c in sy hand, met ’n mossie agterop. Hy vertel dat die wêreld rondom hom gaan stilstaan het, dat hy besef het dat God daar by hom op die trein is en dat gebed in hierdie stukkende wêreld sy waarborg is.

God troos deur Sy Woord. Lees dit en deel dit aan ander uit!

Teks
Tit 1:6-10

Om oor na te dink
Het jy troos nodig?
Weet jy van ander wat troos nodig het?
Hoe kan jy die troos gaan uitdeel?

Gebed
Here, help my om ander te troos soos U my in U Woord getroos het. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek
Gesels gerus hier!
Hulp nodig?
Hallo👋
Hoe kan ons help?