God se Woord in vandag se woorde

Prys die Here!


Soms, wanneer daar ’n hoogtepunt in my lewe is, “glip” daar ’n “Prys die Here!” uit. Ek sê glip, want dis ’n spontane reaksie. Iets wat ek nie beplan het nie. Maar ek het nog ’n probleem met hierdie eerste sin en dit is dat die sin begin met soms.

Hoekom eer ons vir God net soms? Hoekom kan ons Hom nie meer eer vir wat Hy vir ons doen nie? Elke oggend wat ek opstaan en ’n diep asemteug kan gee, moet ek met die uitblaas die suurstof goed gebruik, en sê: “Prys die Here. Hy het vir my nog ’n dag gegee!”

Dis is eintlik ’n opdrag: 15Laat ons God daarom gedurig prys en mooi dinge oor Hom sê omdat Jesus dit vir ons moontlik maak. Dít moet mense doen wat openlik sê dat hulle aan God behoort.

As ons regtig verstaan waardeur Jesus is en wat Hy vir ons moontlik gemaak het, as ons die marteldood wat Hy moes deurmaak verstaan, sodat ons nie meer pa hoef te staan vir ons sonde nie, sal ’n mens mos elke oomblik van die dag vir God wil prys en nie net soms nie.

En tog kry ons dit nie reg nie. Ons praat nie veel oor God nie. Baie keer weet mense saam met wie ons werk of mense met wie ons elke dag in kontak kom, nie eers dat ons kinders van God is nie.

Jesus het so baie vir ons gedoen. Die Vader, Jesus en die Heilige Gees doen die wêreld vir ons. Dis hulle wat die moontlik maak dat die wêreld om sy as bly draai. Dis hulle wat sorg dat die sterrestelsels op hulle plekke bly en nie in die aarde vas vlieg nie. Dis hulle wat sorg dat elke seisoen op sy tyd hier aankom, al probeer ons mense hul bes om dit op te foeter.

Ek dink ons sukkel om hierdie opdrag uit te leef, juis omdat dit ’n opdrag is en nie iets is wat spontaan kom nie. Soos die “Prys die Here” wat soms by my mond uitglip. Ons moet doelbewus konsentreer om die Vader en Jesus te prys vir wat hulle vir ons gedoen het.

Dankbaarheid vir Jesus is nie iets wat net by ons mond uitglip nie. Dankbaarheid is ‘n leefstyl en wanneer dit ’n leefstyl is, verander die soms in gedurig en kan ons onsself nie keer om God te prys vir elke liewe ding wat met ons gebeur nie.

Selfs in die opdraendes wat ons moet uitbeur, kan ons vir God dank, want al sien ons nie die hele prentjie nie, weet en glo ons dat God ook dit waardeur ons nou moet swoeg, sal gebruik om ons te vorm en ons uit te kry by die prentjie wat Hy van ons het.

Kom ons maak ’n punt daarvan om ’n lewenstyl na te jaag wat aangevuur word deur dankbaarheid vir ons Skepper en vir Jesus wat ons lewe kom red het. Kom ons wees openlik daaroor, sodat die mense om ons duidelik weet wie die Heerser van ons lewe is.

Laat ons nie bang wees nie to give credit, where credit is due. Juis daarom kan ek nou nie anders nie as om hardop te sê: “Prys die Here, want Hy is goed! Sonder Hom sou ek ’n ronde nul gewees het!”

Teks
Hebreërs 13:9-16

Om oor na te dink
Leef jy ’n lewe van dankbaarheid?
Weet die mense om jou dit?
Waar kan jy anders lewe?

Gebed
Jesus, dankie klink nou so klein. U is my alles. Sonder U is ek vir seker ’n nul op ’n kontrak. Help my om vandag ’n lewe te leef waar mense my dankbaarheid vir U ervaar. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek