God se Woord in vandag se woorde

Redenasies en so


Ek hou nie baie van redenasies nie. Ek vermoed dit is omdat my kop te plat is om alles op een slag te verstaan.

Dit is nie verkeerd om te redeneer nie en ons samelewing het dit nodig om seker te maak dat ons op die regte pad bly. Dit is egter belangrik dat ons nie agter valse dogma’s aanhardloop nie.

Paulus onderstreep die feit dat die Evangelie primêr oor Jesus gaan 4… sodat niemand julle op ’n verkeerde spoor kan lei met redenasies wat slim mag klink, maar eintlik van leuens deurtrek is nie. Hier word eintlik verwys na verkeerde dogmas of teologieë wat in mense se kele afgedruk word en wat hulle weglei van die boodskap van Jesus.

Een ding wat ek nie verstaan nie, is dat daar Godsmanne is wat geroep was om die Woord van God suiwer te verkondig en dan weens een of ander stamp in die lewe, hulle boodskap verander na iets wat vêr verwyder is van die ware boodskap.

Ek hoor by ’n vriend van my dat sy predikant begin glo het dat Jesus slegs ’n historiese mens was en nie eintlik die Seun van God is nie. Dit verras my nie dat sy gemeente kort daarna heeltemal toegemaak het nie.

Ons loop graag agter leiers aan. Kerke met dinamiese leiers is altyd stampvol en Sondae moet daar stoele ingedra word. Dit is nie verkeerd nie en selfs normaal vir ons om so agter leiers aan te loop. Tog bly dit ons elkeen se verantwoordelikheid om seker te maak dat ons nie mislei word nie.

Ek dink ons maak dikwels te veel van teologieë en reëls in plaas daarvan dat ons in die eenvoudige waarheid van die Evangelie glo. Ons redekawel intens oor dinge wat eintlik nie veel te doen het met die sentrale boodskap van God nie.

Die raad van Kerke het dae lank gekyk na dit waarmee hulle almal saamstem. Op die ou end het hulle net een gemeenskaplike ding gevind en dit is dat Jesus vir almal se sondes aan die kruis gesterf het. En weet jy wat? Dit is genoeg. Dit is die middelpunt van alles waarin ons glo.

Redenasies lok ons dikwels weg van die Evangelie af met die gevolg dat ons nie meer ons roeping in die wêreld uitleef nie. Dit is chaos daar buite. Daar is soveel mense wat woes alleen is. Daar is mense wat soos afkophoenders rondhol en geen rigting het nie. Daar is mense met groot seer wat hulle nie kan hanteer nie. Daar is mens wat honger is na kos en na die Evangelie. Kyk maar net rondom jou.

En ons wat hulle moet help, wat doen ons? Ons gebruik ons energie vir redenasies oor dinge wat wys dat ons selfsugtig en jaloers op mekaar is. Ons redeneer onder mekaar of hiérdie of dáárdie groep vir God aanneemlik is of nie. Ons baklei oor dinge wat niks met die Evangelie te make het nie.

Dit bly elkeen se verantwoordelikheid om seker te maak dat hy of sy agter die regte leier aanstap. Maak seker dat Jesus die middelpunt bly en nie mensgemaakte teologieë nie. As Jesus die middelpunt is, sal dit sigbaar word in die verskil wat ons in ons onmiddellike omgewing maak. Indien daar nie veel buite die kerk aangaan nie, moet daar baie vraagtekens wees.

As ons eendag in die hemel kom, gaan daar nie gevra word wat jou leier geglo het nie, maar wat jy geglo en geleef het …

Skrifgedeelte

Kolossense 2:2-5

Om oor na te dink

Waarin glo jy?

Waaroor sit die mense in jou kerk vas?

Waar moet jy help?

Gebed

Here, ek word soms naar as ek sien hoe U kinders aangaan en baklei oor dinge wat eintlik nie veel te make het met die sentrale verlossingsboodskap nie. Vader, help my om nooit my oë van die kruis te neem nie. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek