God se Woord in vandag se woorde

Reset jou hier wees


’n Paar stukke terug skryf ek: “Maar meer nog. God het dit goedgedink om die huwelik daar te stel vir kinders om die wêreld in te kom. Dit is die veilige hawe waarheen kinders en eggenote elke keer kan terugkom om hulself te wees, beskerm te word en ja, liefgehê te word.”

5… Hulle moet ook vir jonger vroue sê om goed na hul gesinne se behoeftes om te sien …

Baie keer hardloop ons in ’n rigting. Ons probeer so hard om by te bly met die res, dat ons vergeet om te kyk of ons in die regte rigting op pad is. Dis deesdae die norm dat die mans en die vroue moet werk. Ons finansiële en lewensdoelwitte is so hoog gestel dat ons nie anders as om albei te werk nie. Hoe gaan ons anders aan die einde van die maand al die hope rekeninge betaal?

Nee, ek sê nie dit is verkeerd dat man en vrou werk nie. Ek en my vrou werk ook albei. Ons is albei in die bediening. Eintlik kan dit nie anders nie. Dis hoe dit ontwikkel het. As een van ons nou hier moet uitklim is die kans goed dat ons oor ’n paar weke die skerms sal moet afsit.

Dis die realiteit waarin die meeste van ons vasgevang is. En om nou voor te stel dat een alles los en die huis gaan bestuur, is dalk effe drasties. As jy dit lankal oorweeg en dit jou roeping is, gaan doen dit. Maar die meeste van ons moet ons brood in die aanskyn van ons sweet gaan verdien.

Maar, en die groot maar, is dat ons te midde van die stryd om al die balle in die lug te hou, ’n groot verantwoordelikheid tuis het. Mans en vroue. Ons huis, ons huismense, ons eggenote en ons kinders is ons eerste roeping. As ons die roeping afskeep, om watter rede ook al, is ons diep in die gemors.

Daar is ’n rede hoekom God die huisgesin gekies het om die platform te wees vir kinders om in die wêreld te kom. As Hy gedink het ’n hospitaal of ’n spesiale broeikas en grootmaak-sentrums sou beter werk, sou Hy dit eerder gekies het. Maar nee, God het geweet gesinne sal beter werk.

Ons moet terugkeer na die eerste rede hoekom ons hier op die aarde geplaas is. Dit is om ’n goeie rustige huis te skep waar ons en ons kinders vir die wêreld daar buite voorberei word. Dit waaraan ons kinders vandag blootgestel word, is erg. Hulle lewe is op die spel. As ons hulle oorlaat dat die wêreld hulle leermeester is, moet ons nie verbaas wees as hulle eendag presies soos die wêreld is en doen nie.

’n Vriend stuur vir my ’n boodskap en sê dat hy besef dat hy homself moet reset, want so maklik pak die lewe dinge op jou wat veroorsaak dat jy die punt mis sit. Amper soos wat jy ’n rekenaar moet oorlaai om net weer te werk soos dit gewerk het toe dit nuut was. Eers weer ontslae raak van al die goggas wat dit so stadig maak.

So moet ons dalk onsself ook nou weer reset om weer by ons oorspronklike roeping uit te kom. God het ons gemaak om ’n omgewing te skep waar ons ons kinders (en mekaar!) kan help om die wêreld in te gaan en op te staan vir dit reg is, om lig te wees in die donkerte en ander te help.

Help ons, God!

Teks
Tit 2:1-5

Om oor na te dink
Jy genoeg by jou gesin?
Is dit nodig?
Hoe kan jy dinge anders doen?

Gebed
Here, help my om tussen al die wêreld se verwagtinge deur, U wil helder te sien en my prioriteite reg te kry. Help my om daardie veranderinge te maak wat guts en opoffering vra. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek