God se Woord in vandag se woorde

Respek vir die Skepper


Dis vir my so lekker om in die Kruger Wildtuin te sit en die diere dop te hou. Al is hulle op ’n heel ander vlak as die mens, kan ons so baie by hulle leer.

Ons sit by ’n waterpunt. Die olifante speel rustig. Daar vêr staan ’n klompie sebras wat heel dors lyk, maar dit nie nader waag nie.

Die olifanttrop het eers genoeg gedrink en begin die bosse inloop. Die sebras draf nader, net om te sien dat daar nog ’n trop olifante op pad is en draai net daar om, om weer vir hulle beurt te wag.

Hierdie proses herhaal hom die heeltyd. Die sebras drink eenvoudig net nie saam met die olifante nie. Dis seker na die vyfde groep wat die sebras ’n kansie kry om gou hul beurt by die krip te kry, voor hulle vinnig weer moet hol, want nog ’n paar grotes is op pad.

Ek wonder lank hoekom die sebras nie saam met die olifante suip nie. Ek vermoed dit is omdat hulle respek het vir die olifante wat soveel groter as hulle is. Die olifante kan seker net een trap gee en die sebra is plat soos ’n pannekoek.

Uit respek vir hul grootte, wag die sebra gedweë vir die olifante om klaar te suip. Die respek wat hulle vir die olifante het, beïnvloed hulle gedrag.

By ons mensespesie werk dit ook dieselfde. Wanneer ouer mense nader kom, staan ons met respek opsy, sodat hulle die voorrang kry. Wanneer ouer mense agter ons in die ry staan, laat ons hulle mos deur om eerste gehelp te word.

Dit is wat ons uit respek doen, omdat hulle ouer is as ons.

Vir God moet ’n mens soveel te meer respek hê, want Hy is soveel meer as ons mensespesie. Om weer die diere as ’n voorbeeld te gebruik. Hoe wonderlik is die Skepper se hande wat elkeen van die diere geteken en toe geskep het!

Elkeen met ’n doel in die kringloop van die dierekoninkryk. Elkeen ’n rol om te speel om seker te maak die kringloop loop nie êrens skeef nie. Hoeveel beplanning moes nie daarin gaan nie? Hoeveel briljantheid het dit nie gekos om dag na dag, jaar na jaar alles in balans te hou nie?

Dit kon net deur ’n wonderlike, briljante God gedoen word. En dit is maar net die diereryk. Hoeveel te meer is die Skepper as ons na die mens kyk?

Voor hierdie Skepper God moet ons laag buig. Dis juis hierdie Skepper God wat ons deel maak van Sy wêreld en ons in Sy koninkryk innooi. Daarvoor moet ons oorloop van dankbaarheid. Daarvoor moet ons oorloop van respek. Ons kan mos nie anders nie.

Laat ons dade elke dag van ons respek en dankbaarheid teenoor ons briljante God getuig. Kom ons probeer dit met alles in ons.

28God maak ons nou deel van sy koninkryk wat vir altyd daar sal wees. Daaroor moet ons oorloop van dankbaarheid. Laat ons Hom dien met eerbied en al die respek wat Hy verdien en laat ons besef hoe klein ons regtig in vergelyking met Hom is. Daar staan nie verniet geskryf nie:

29“God is soos ’n vuur wat alles tot as kan verbrand.”

Teks
Hebreërs 12:25-29

Om oor na te dink
Hoe wys jy dat jy God respekteer?
Kan ander mense sien dat jy respek vir God het?
Waar moet jy dinge anders doen uit respek vir God?

Gebed
Hemelse Vader, niemand is groter as U nie. Alles en almal moet voor U neerbuig. Help my om te weet hoe om U die respek te gee wat U verdien. In Jesus se Naam, amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek