Rooi, want jy’s witwarm
Ons kuier by vriende in Bloemfontein. Dit gaan geil. Hulle bederf ons in die grond in. Dis 3 etes ’n dag. Maar dis nie al nie. Dis die gebak wat elke gaatjie in my volstop. Eers die lemon meringue, toe die kaaskoek en die troefkaart was ’n dubbellaag sjokoladekoek.
Vrydagaand loop daar egter ietsie skeef. Man, sulke pragtige wraps het ek in my lewe nog nooit gesien nie. Toe ons aan tafel gaan sit, kan ek nie wag om my lippe om dié kos te sit nie. Toe die pragtige bord met die wrap en omtrent ’n hele avokado en ’n homp maaskaas voor my neergesit word, moes ek kliphard sluk om te keer dat die kwyl nie uit die hoeke van my mond loop nie.
Ek gooi so ’n dik skoot of twee Tabasco om dit so bietjie op te warm. Ons bid en ek val weg. Salig wag ek vir die geure om in my mond oop te bars.
Ek kom egter met ’n skok agter hier is fout, want die eerste reaksie is my oë wat liggies begin traan.
Ek hou my pose en kyk wat die ander doen. Ek sien elkeen sit met vraagtekens en oë wat traan. Ek probeer nog ’n stukkie, dié keer aansienlik kleiner as die eerste hap. Maar hy brand. Hy brand tot heel onder. Ek weet hier is fout.
Gelukkig is dit die gasvrou wat eerste uitroep: Dis warm! Dit brand! O, ek is so jammer, êrens langs die pad het hier ’n fout ingesluip. ’n Groot fout. ’n Groot warm fout.
Later kom sy agter dat iemand die Nando’s bakkie volgemaak het met uiters warm rissie speserye. En sy is nie bekend vir terughou as dit kom by speserye in die kos strooi nie.
Ek kon myself nie keer nie en het gespot: julle gunsteling kleur is seker rooi, want julle is witwarm!
So maklik kan een bestanddeel die hele dis opfoeter. So maklik kan ons met reëls en regulasies dit wat lekker moet wees, opfoeter. So maklik bederf mense God se boodskap van vryheid met heilige (rissie!) reëls en dit ontneem ons die vreugde van dit wat God vir ons gegee het.
21… Julle raak vreeslik ernstig daaroor dat ’n Christen nie sekere dinge mag eet of aan ander dinge mag vat nie. 22Dit lyk amper of julle dink God self is in hierdie aardse dinge vasgevang. Intussen het bloot gewone mense al die reëls en idees uitgedink en dit “godsdiens” genoem. Daardie kos wat kamma so heilig of onheilig is dat julle dit nie eens mag eet nie, lê môre vrot op die ashoop.
So maklik laat ons toe dat ander mense ietsie by ons geloof gooi en dan trek dit alles skeef. Dit wat eintlik vir ons lekker moes wees, wat God vir ons kom gee het om ten volle te geniet, word nou deur die een “spesery” wat die mens kom bygooi, ongenietbaar gemaak. Nou raak die lekker sleg. Die boodskap wat vry maak word vervang met ’n boodskap van reëls en regulasies.
Jesus het ons kom vry maak van die bande wat sonde om ons gebind het. Hy het die kettings kom afsaag sodat ons die lewe kan geniet sonder om slawe van die sonde of die Satan of enige onnodige reëls te wees.
Kom ons geniet alles wat God vir ons gegee het. Kom ons neem hierdie boodskap van vryheid na die ander wat nog vasgeketting is. Kom ons wees die lekker spesery vir die mense om ons. Kom ons help ander om die vryheid wat Jesus bring te geniet. Kom ons geniet die vryheid wat Jesus in liefde aan ons geskenk het.
Teks
Om oor na te dink
Waar druk iets jou nog in ’n hoek vas?
Wat maak dat godsdiens nie vir jou lekker is nie?
Hoe kan God jou help?
Gebed
Vader, hoekom moet ons tog so baie keer die handbriek optrek wat keer dat ons die lewe geniet? Om U te dien, is vreugde. Help ons om U in gehoorsaamheid en in vryheid te dien. Amen.