Rotse, donderwolke en vreugde
My dogter lees haar opstel vir my. My mond hang oop vir haar wysheid en ek besef dat ook sy al hard met die lewe te doen gekry het. Die lewe is nie maklik daar buite nie:
Die langste reis wat ons as lewende wesens op die aarde in die gesig sal moet staar, is ons lewensreis.
Die lewe is ’n reis vol indrukke wat op ons gemaak word, sommige van gesprekke en woorde met mense, ander weer van toeriste-attraksies en wêreldavonture en sommige van noue vriendskappe en verhoudings. Dit is hierdie indrukke wat ons die mens maak wat ons elkeen vandag is. Van hierdie indrukke beïnvloed ons so diep dat hulle die fondament van ons morele waardes en etiese standaarde vorm.
Vanaf die dag toe ons ons eerste asem van Moeder Aarde se suurstof geteug het, het ons tuimeltrein en langverwagte reis begin. Sommige dae kan ons skaars ’n myl voor ons uitsien, ander dae is die klippe die oorsaak van ons struikel en ander dae hardloop ons volspoed met die wind van agter.
Elke nuwe dag kom soos ’n geskenk voor ons deur gesit. Elke geskenk lyk anders dag na dag en elkeen vul die groot reis wat ons lewe voorstel. Dit is ons eie keuse wat ons wil maak met die geskenk.
Sommige dae is daar baie donker wolke en dit lyk na ’n haelstorm wat op pad is. Die rotse lê in jou voetpad, die paaie is gekronkel en dit maak dit moeilik om te sien waar die eindstreep is. Die klippe en dorings maak jou voete seer. Dit donderweer en blits en daar’s geen teken van ’n sonskynstraaltjie nie. Nadat jou bene al lam is, die sweet by jou voorkop aftap, jou keel soos vuur brand van moegheid en jy uiteindelik bo-op die bult is, sien jy die welverdiende uitsig.
Daar moet vir elke beeldskone uitsig gewerk word. Die son skyn weer volstroom en die uitsig word baie meer waardeer. Partykeer wil mens net ’n breukkans vat, rus op die bult en die mooi uitsig aanskou, dan breek die volgende dag weer aan. Die dag kan ’n kwessie van 24 uur, drie maande of selfs twaalf jaar wees.
Ons het geen beheer oor hoe ons “weervoorspelling” vir elke dag gaan lyk nie, maar ons het wel beheer oor hoe ons dit hanteer en die keuses wat ons daagliks maak. Ons kan besluit om selfs in die haelstorms te probeer volspoed hardloop, val, vinnig weer opstaan en leer uit ons foute.
Die geskenk wat ons daagliks oopmaak is die stukkies van die legkaart wat ons lewensreis voltooi, in die sonskyndae en ook tydens die haelstorms.
Dit is my en jou keuse hoe ons dit wat die lewe na ons gooi gaan hanteer. Ons kan in sak en as verval of ons kan dit na die beste van ons vermoë hanteer en ons geluk op ’n ander plek soek.
Ons moet probeer vir die laaste een. Al is die rotse in ons pad, al slaan die blitse en die donderweer, laat ons ons vreugde in die Here vind: 4Julle harte behoort oor te loop van blydskap omdat julle aan die Here behoort. Ek sê weer, julle moet baie bly wees.
Om oor na te dink
Waar trek jy swaar?
Wie of wat steel jou vreugde?
Hoe kry ’n mens weer die vreugde terug?
Gebed
Ons Vader in die hemel, kom ons sê dit nou maar reguit vir mekaar: Dit gaan nie elke dag so rooskleurig nie en ons sukkel om ons vreugde te vind. Ons weet ons moet dit by U kry, maar… Amen.