Ruimte vir verskille
Elkeen van ons kyk na die wêreld deur ’n bril. Die bril is gevorm deur ons ouers, ons opleiding, ons vriende en selfs vreemdelinge wat so nou en dan hulle opwagting in ons lewens kom maak. Soos wat ’n sonbril net sekere strale deurlaat, so laat die bril waarmee ons na die wêreld kyk net sekere strale deur. So kan ek en die persoon wat langs my staan na dieselfde prentjie kyk, maar iets heel anders waarneem.
’n Dosent het sy studente in twee gedeel. In die prent was twee vroue se gesigte in mekaar verweef. Aan die een groep het hy die kenmerke van ’n jong vrou verduidelik. Hulle het net die jong vrou raakgesien. Aan die ander groep het hy weer die kenmerke van ’n ou vrou verduidelik. Hulle het net die ou vrou raakgesien.
Hy bring toe die twee groepe bymekaar met die opdrag dat hulle aan mekaar moet verduidelik wie hulle in die prent sien. Die een groep kon glad nie verstaan wat die ander groep sien nie. Later was sommige van hulle opstandig en hulle het selfs kwaad geraak vir mekaar. Hulle kon eenvoudig nie glo die ander sien wat hulle nie sien nie. Dis dan so eenvoudig en voor die hand liggend.
So kan ek en jy na dieselfde prentjie of teks in die Bybel kyk, maar dit verskillend verstaan. Soms raak die gesprek rondom die prentjie wat ons sien so driftig dat ons sommer kwaad word. Sommige gesinne is al uitmekaar, sommige vriende het kwaaivriende geword net omdat hulle nie mekaar se prentjie kan sien nie.
Paulus is ook bewus daarvan dat sommige van die mense van Filippense anders dink: 15So behoort volwasse Christene oor dinge te dink. As party van julle op sekere punte van my verskil, laat God vir julle wys wat julle regtig moet dink. 16Hoe ook al, laat ons nie nou die verkeerde pad vat nie. Laat ons op die regte pad bly.
Vir baie van die nuwe Christene was sekere gebruike van die Joodse godsdiens baie belangrik. Daar is baie energie ingesit om hulle manier van verstaan te probeer verdedig. Nou pleit Paulus vir hulle om nie toe te laat dat die dinge hulle van stryk bring nie. Hulle besef tog dat Jesus gekom het om vir hulle sondes te sterf en dis die belangrikste. Die res se invloed moenie so groot raak dat dit hulle van stryk bring nie.
Dit geld ook vir ons. Met die sosiale netwerke wat alles oordonder word ons met té veel inligting gebombardeer. Elke persoon wil sy manier van kyk na die prentjies verdedig. Elkeen glo dat hy of sy die enigste waarheid beet het. Aan die einde van die dag is dit so ’n geraas dat niemand mekaar meer hoor nie en selfs die omstanders draai weg met ’n slegte smaak in die mond.
Ons moet besef dat ons elkeen ’n bril op het en dat ons met baie vooropgestelde idees opdaag. Dalk het die ander een ’n groter stuk van die waarheid beet as jy, wie weet? Daarom moet ons ook luister na die ander en hoor wat hulle te sê het.
Maar hoe nou gemaak? Wie het ’n groter stuk van die waarheid beet? Hier moet ons presies doen soos Paulus voorstel: 15… laat God vir julle wys wat julle regtig moet dink.
Raak stil by God. Vra Hom om vir jou vrede te gee oor die verskille. So sal ons almal kan sorg dat ons op die regte pad bly en dat ander wat ons so onder hulle wenkbroue beloer ook kans sien en lus wees om saam met ons te loop.
Om oor na te dink
Hoe ernstig neem jy jouself op?
Het jy ruimte vir ander?
Luister jy soms na hulle manier van verstaan?
Gebed
Here, daar is baie dinge wat ek nie verstaan nie. Soms baie meer vraagtekens as uitroeptekens. Gee my asseblief insig en wysheid om op die regte pad te bly. Amen.