God se Woord in vandag se woorde

Ry op ander se gebede se petrol


Baie keer sukkel ek om te bid. Ek sukkel om stil te sit. Ek sukkel om my gedagtes in lyn te kry en met God te praat. Maar ek sukkel nog meer om stil te bly en te luister na wat God te sê het. Baie keer staan ek op van my gebed en voel dat ek dit nie gemaak het nie.

Dit het seker iets te doen met die feit dat ek ADHD het, en ek vermoed die res van die alfabet ook.

Wanneer ek so mismoedig opstaan, is ek so dankbaar vir ander mense wat vir my bid. Ek weet daar is familie en vriende wat elke dag vir my bid. As dit nie vir hulle was nie, was ek vir seker al van die pad af.

Aan my eie bas voel ek die krag van gebed. Dit is nou die krag van ander se gebed. Gebed vir ander werk vir seker. Ons moet dit besef en ook weet dat dit ons elkeen se roeping is om vir ander te bid.

Dit is wat Paulus doen: 4Filemon, ek dink gedurig aan jou en ek bid so baie vir jou. Ek sê elke keer vir God baie dankie wanneer ek aan jou dink, want ek hoor net die wonderlikste dinge van jou.

Paulus was ’n man wat erg geglo het in gebed. Behalwe sy skrywery, het hy ook geweet dat daar nog ’n manier is om die kerk van Christus te help en dit is om elke leier en elke gemeente gereeld in gebed na God toe te bring. Met sy gebed, dra hy die kerk. Hy roep versterkings in. Hy vra dat hulle op die pad sal bly en natuurlik bid hy vir elkeen se beskerming daar in die woeste wêreld.

En terselfdertyd sê hy ook dankie. Maar hy bedank nie vir Filemon omdat hy dit so mooi regkry om ’n verskil in God se nuwe wêreld te maak nie. Nee, hy bedank God, want dis God wat dit vir Filemon moontlik maak om ’n verskil te maak.

Dit is God wat beskerm. Dit is God wat hom wysheid gee. Dit is God wat die nuwe planne in sy kop sit. Dit is God wat hom die krag gee om aan te gaan en weer te probeer. Daarom kom al die eer aan God toe. En dit is presies reg so, want as dit nie vir God was nie, sou nie Filemon of enigiemand anders die pyp gerook het nie.

Ons moet by Paulus leer. Ons moet besef dat ons elkeen ’n opdrag het om vir die geliefdes om ons te bid. Elkeen het gebed so nodig, want ons is so besig om kop bo water te probeer hou, dat ons nie altyd tyd het om te bid nie, of liewers tyd maak om te bid nie. Soms is die lewe net te deurmekaar en ons op plekke waar ons geloof by die deur uitgewaai het. Ja, daar is tye wanneer ’n mens eenvoudig net nie kan bid nie.

Dit is dan juis hier waar ons op ander se gebede se petrol ry.

Kom ons leer ’n groot les hier. Kom ons bid vir mekaar. Kom ons maak tyd en maak sommer ’n lysie van almal wat ons ken, sodat ons gereeld vir hulle kan bid. Almal het dit so nodig. En, o ja, onthou om al die dank na God toe te kanaliseer, want dit is net deur Sy genade wat ons mensies iets regkry.

Aan God kom al die eer toe!

Teks
Filemon 1:4-7

Om oor na te dink
Glo jy in gebed?
Vir wie kan jy almal intree?
Onthou om vir God te dank.

Gebed
Here, ek wil so baie dankie sê vir elke persoon wat vir my intree. Sonder hulle gebede sou dit maar swaar gegaan het. Help my om te onthou om ook vir ander in te tree. Mag U naam al die pad die eer ontvang! Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek