God se Woord in vandag se woorde

Saam in jou swaar


Ek kyk die reeks, A.D. The Bible Continues. Dit gee ’n mens ’n ware kykie in die lewe van Jesus en die dissipels. Dit is aangrypend en soms eenvoudig net te veel, en dan maak ek my oë toe.

Die Romeine het geen ontsag vir die lewe gehad nie. As hulle nie hulle sin kry nie, kruisig hulle sommer tien onskuldige, jong Jode per dag, totdat hulle die inligting gekry het waarvoor hulle soek.

Bloed vloei orals. Swepe klap. Soldate vertrap. Die lewe word stadig uit mense uitgetap om mag te wys. Om angs te kweek. En vir seker kry hulle dit reg.

Ek het nodig om dit te sien, al draai ek soms my kop weg as dit te veel raak. Ek het nodig om presies te verstaan in watter tyd Jesus hier op aarde was. Jy sien, ek kyk deur my bril van die wêreld hier om my na Jesus se wêreld toe Hy hier op die aarde was.

Ek sien teerstrate met huise en groen tuine. Ek sien regerings wat met pakke om tafels regeer en in toom gehou word deur redelikheid en menslikheid. Ek kyk met oë wat waarde het vir ’n lewe.

En dan is my prentjie skeef.

In daardie tyd was daar nie reg en geregtigheid nie. Dit was barbaars. Dit was erg. Dit was baie erg.

In daardie tyd was Jesus daar. Geslaan dat die bloed loop. Geslaan totdat iets breek en dan nog ’n stukkie verder. Die pyn en seer was onmenslik. Aan ’n houtkruis vasgeslaan, sodat die bloed uit Hom tap, totdat die lewe ook Sy gees gee.

Onmenslike lyding en pyn en seer en swaar. Soveel so, dat Jesus in ’n stadium so vêr van God af voel, dat Hy uitroep: “My God, my God, waarom het U my verlaat?”. Was jy al op moedverloor se vlakte, waar selfs God nie meer naby voel nie?

Dis nou die derde keer dat ek hieroor skryf, want ek wil en moet die spyker nog verder inslaan. Jesus weet van pyn vat. Jesus weet van: “Ek kan nie meer verder nie”. Jesus weet van wil handdoek ingooi. Jesus weet van wil uitklim, soos die stoeiers wat nie meer verder kan nie.

18Juis omdat Hy self ervaar het hoe dit voel om swaar te kry en nee te moet sê vir versoekings, kan Hy mense wat ook in sulke situasies beland baie goed help.

Jesus stap saam met jou in jou seer. Hy klim saam met jou in jou skoene en sukkel voort. Hy weet. Hy verstaan. Hy was ook al daar, tree vir tree. Sy trane plons saam met joune op die vloer.

Daarom kan Hy jou nie alleen los nie. Nie as Hy dit self aan Sy lyf ervaar het nie.

Weet dat Jesus daar is, saam in jou stryd en saam sal julle daardeur kom.

Teks
Hebreërs 2:14-18

Om oor na te dink
Glo jy in Jesus se lyding?
Glo jy dat Hy saam met jou ly?
Glo jy dat jy ook saam met ander kan ly?

GebedJesus, ek hoor, maar ek weet nie lekker wat om hiermee te maak nie. Help my net asseblief, want ek kan nie meer nie. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek