God se Woord in vandag se woorde

Saam met Jesus deur die lewe


Filippense 1:3-11

Gaan dit altyd goed met jou? Sien jy net altyd die blink kant? Vaar jy nooit in stormwaters nie? Loop daar nooit iets skeef nie? Nee wat, dis nie so met my nie. Ek swoeg en ek sweet.

Baie besighede sukkel. Mense hou met alles wat hulle het aan hulle werk vas, maar dit lyk nie of dit werk nie. Verhoudings word uitmekaargeruk. Huwelike lê aan skerwe. Die wêreld is net nie lekker nie. Dan lees ek dié vers: 6Van een ding is ek seker: dit is God wat al hierdie goeie dinge met julle laat gebeur. Hy sal dit vir julle bly doen tot op die dag wanneer Christus Jesus weer kom. Hy sal julle nooit in die steek laat nie, daarvan kan julle seker wees.

Dadelik vra ek die vraag: Nou wat doen ek verkeerd? Hoekom stap God verby my? Hoekom laat God nie toe dat die goeie dinge met my gebeur nie? Hoekom gebeur die goeie nie met my tot die einde van die tyd in plaas daarvan dat ek telkemale, nee daagliks, in die dinges trap nie? Laat God dan nie juis vir my in die steek nie?

Dink jy dit is erg om so te dink? ’n Vriend vertel ’n stukkie van sy dag vir my:

Ek dink nie so nie. Kom ek vertel jou gister se storie. Drie van my werkers is in ’n ongeluk met ’n taxi en ek moet reël vir vervoer na die dokter. Daarna skryf ek een waarskuwing en twee dagvaardigings vir dissiplinêre verhore weens die weiering om opdragte uit te voer. Dít voor 08h00. Om elf kry ek ’n faks van ’n unie: 27 van my mense het aangesluit by die unie. En nou praat Paulus van die goeie dinge! Ag, please!

Saam met my vriend lê my moed ook in my sokkies as ek net dink aan die swaar en die seer rondom ons.

As ek na Paulus se storie kyk, lyk dit nie veel beter nie. 7… Dit het nie saak gemaak of ek in die tronk gegooi is of soos ’n misdadiger in die hof moes veg en beledig is omdat ek vir mense van Jesus vertel het nie. God was egter deur dit alles goed vir my, en dit het julle die hele tyd saam met my ervaar.  Paulus het ook nie altyd maanskyn en rose ervaar nie. Tog sê hy dat God vir hom goed is. Op ’n manier sien Paulus die groter prentjie en al sien hy dit nie heeltemal nie, weet Hy dat God op ’n manier die dinge sal uitsorteer. Op ’n manier gebruik God die dinge wat met hom gebeur tot sy eer. God draai die negatiewe om in ’n positief.

Waar maak ons dan die fout? Ek dink Paulus bedoel hier dat, omdat ons in God glo, dit nie ’n waarborg is dat ons geen terugslae sal kry nie. Ons as kinders van God is nie gevrywaar teen goeters wat nie loop soos ons beplan dit moet loop nie. Ons moet die aanvalle van die wêreld teenstaan en nie in sak en as gaan sit nie.

Ek het nie al die antwoorde op die vrae van die lewe nie. Ek weet nie hoekom die een ou altyd swaarder as die ander moet kry nie. Ek weet nie hoekom die een na die ander curve na sommiges se kant toe kom nie. Wat ek wel weet is dat ons nader aan God moet leef. Jesus moet ’n groter deel uitmaak van ons lewe. Dit is hier in ons verhouding met Hom waar ons leer van die lewe en waar ons duidelikheid kry oor die pad vorentoe.

Dit is Paulus se hartsbegeerte vir sy mense. Daarom bid hy vir hulle: 9Weet julle waarvoor bid ek? Ek bid dat julle al hoe nader aan Jesus sal leef. Dit is moontlik as julle bereid is om uit julle geestelike ervaring te leer.

Ons stoei so hard in die markplein om al die balle in die lug te hou dat ons al minder tyd met Jesus deurbring. Die gevolg is dat ons verder weg beweeg en nie meer sy leiding kan ontvang in ons alledaagse lewe en besluite wat ons by die werk moet neem nie. Dan voel ons later soos ’n hond en ons wil handdoek ingooi.

Wel, ek gaan nie! Ek gaan opstaan en vorentoe storm. Los my uit, dat ek op volspoed kan kom, want in die skaduwee van my Here wil ek bly. By Hom sal ek leer. By Hom is ek veilig en deur my geestelike ervaring saam met Hom sal ek weet hoe om elke situasie aan die horings te gryp.

Om oor na te dink

Watter storm woed oor jou kop?

Sien jy ook nie uitkomkans nie?

Hoe naby aan Jesus leef jy?

Gebed

Vader, mag ons meer tyd saam met U deurbring. Mag ons nader aan U groei. In U arms sal ons rus vind. Amen

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek