God se Woord in vandag se woorde

Saam-saam


Filippense 1:30

30Ek en julle stap sy aan sy as Christene, en daarom lê daar soms ook vir julle ’n moeilike, opdraande pad voor.

Oor die vers kan ons boeke vol skryf. Ons kan baie verhale vertel van ons eie lewens. Verhale waar die pad baie swaar was en is, tye toe ons wou moed opgee en soms wel opgegee het en genadiglik weer opgestaan het. Kom ons wees nou maar eerlik met mekaar: Dis nie maklik om deur al die swaarkry jou kop bo water te hou nie.

Tog moet ons mekaar se hande en stories vat en deur die swaarkry beur. Saam-saam kan ons daardeur.

’n Vriend van my en sy vrou trek vir ’n paar jaar deur die swaarkry van die lewe. Die een stuk swaar na die ander tref hulle. Maar op ’n manier stuur God engele oor hulle pad om hulle deur die swaar te sleep.

Uit sy bedankingsbrief sien ’n mens hoe die swaar van die lewe hulle teen die planke gehad het, maar ook hoe God mense oor hulle pad gebring het om hulle op te tel:

Liewe familie, vriende en mediese mense met wie ons paaie die afgelope drie jaar meer as gewoonlik gekruis het.  Omdat dit moeilik is om fisies by almal uit te kom, net hierdie briefie om dankie te sê vir al die gebede, goeie wense, besoeke en professionele aandag wat ons tydens hierdie uitdagende en avontuurlike tyd in ons lewe van julle ontvang het.  

Vanaf die diagnosering van die Waldenstromgoggas, my vrou se kerstydvakansie in die hospitaal in 2013, longontsteking, die ses maande behandeling, die knietjie, skouertjies, die tande rondkrappery tot die mees onlangse holtes in ons koppe wat skoongemaak moes word en die draai in die ICU, was ons oorval deur julle gebede, goeie wense, bystand en uiters professionele diens van al die baie dokters en hulle personeel. Wees verseker dat ons dit baie waardeer, dat die Here dit geseën het en dat Hy ons elke tree baie naby was.

Alhoewel ons baie lesse van die lewe geleer het, soos dat niemand verhewe is bo siekte en om behoorlik teen die planke te wees nie, en veral die waarde van familie en vriende, is die bewuswording van die ongelooflik baie genade, seëninge en guns wat ons steeds elke dag van die Here ontvang, sekerlik die grootste ervaring.  Ons loof Hom daarvoor en gee Hom al die eer.

Wat ookal nog voorlê, ons is dankbaar en rustig en vat elke dag soos dit kom en leef so voluit soos moontlik – die lewe bly ’n lied – net die wysie verander soms ’n bietjie!!!

Soos in Filippense 4:4-7 staan, wens ons julle almal baie seën, voorspoed, vreugde, vrede en vryheid vir die toekoms toe.

Baie dankie, ons waardeer julle.

Sjoe! Sien jy ook die wysheid van my vriend? Sien jy ook dat hy en sy vrou deur die swaar en deur ondersteuningspilare aan God vasgryp en hang? Sien jy die lofprysing tot God, want as jy so terugkyk oor jou pad van die swaar en die sleep daardeur, staan daar net een Naam geskryf en dis God!

Ek bid dat ek ook so deur die swaar sal beur. Ek bid dat ek ook so vir ander sal help beur, want saam-saam moet ons deur die swaar. Ek besef dat as ek nie deel van die saam-saam is nie, iemand dit dalk nie gaan maak nie.

Sjoe!

Mag ons ons oë oophou, mag ons orals om ons soek waar ons kan deelneem aan die saam-saam…

Om oor na te dink

Kry jy swaar?

Wie kan saam met jou?

Wie kan jy help?

Gebed

Here, dis nie altyd maklik om deur die swaar te gaan nie. Help my. Gee my krag om daardeur te gaan en heel of beter anderkant uit te kom. Gee my ook krag om ander te help wat self deur die swaar van die lewe gaan. Amen

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek
Gesels gerus hier!
Hulp nodig?
Hallo👋
Hoe kan ons help?