Saam voel, saam streef en saam doen
Kruispad nou op Instagram! Follow ons by: https://www.instagram.com/kruispad/
Vers 2 spook by my: 2 Konsentreer liewer op die dinge waaroor julle saamstem. Wees lojaal teenoor mekaar. Voel saam, streef saam, doen saam.
Wat van my en jou verwag word, is meer as net om saam te stem met hierdie vers. Dis maklik om vir iemand ruimte te gee om sy eie dinge te glo en te sê. Dis selfs maklik om saam met hom te praat en saam met hom te stem, maar om saam te voel en streef en doen, is nie so maklik nie.
Op ’n manier moet ons ons hele wese in lyn kry met die ander persoon. Ons moet saam met hulle voel. As ander seerkry, moet ons ook seer hê. Ek sukkel hier. Ek sukkel om myself in ’n ander persoon se seer in te dink, veral as ek self nog nie deur so ’n seer gegaan het nie.
Wanneer die ander lag moet ons ook saamlag. Dis half makliker.
Selfs saam droom en uitsien na ’n beter toekoms kan ek ook makliker saamdoen, maar ai, met die saamvoel têre dit maar.
Ek kry baie mense wat alleen is. Mense wat nie iemand het om enige iets saam met ander te voel, saam te streef of saam te doen nie. Dit is regtig moeilik vir hulle om elke dag op te staan en die lewe in die oë te staar. Want hulle het ’n gemis, ’n groot gemis.
Ons is nie gemaak om alleen te wees nie. In ons wese is ons gemaak om saam te wees. Ja, ons moet saam met mekaar voel. Ons moet regtig probeer om saam te streef na die regte dinge, want dan kan ons op die ou end saam dinge doen. Dit is die doel van saam lewe, want twee is beter as een.
Ek het al vertel dat ek nie gebou is vir oefening nie, eintlik net vir liefde. Om egter by my eetgewoontes aan te pas, moet ek oefen. Omdat ek eet, moet ek oefen, anders kry my skaal vrek swaar. En om myself te motiveer om te oefen is nie maklik nie, want my hele wese smag na nog ’n bietjie slaap en oefening is nie eers op die kaarte nie. Daarom is dit baie beter om ’n tjommie te hê wat saam oefen. Ek wil nie die een wees wat verskonings maak hoekom ek nie gaan gym nie, al weet ek hy smag daarna dat ek ’n WhatsApp stuur sodat hy ook ’n bietjie langer kan inkruip.
Kyk net hoe mooi praat Paulus hier met ons: Saam streef ons na kleiner pense, saam voel ons die pyn (in die gym) en vir seker saam doen ons ook. En die gevolg is dat ons almal beter daaraan toe is.
’n Ander vriend van my het in ’n stadium die volgende spreekwoord gestuur: Saam vorm ons drie dubbele toue wat staande kan bly teen satan – om alleen teen satan te veg is partykeer soos om alleen te oefen. Ons raak gouer moeg as wanneer iemand saam met ons oefen.
(Snaaks dat hy ook praat van oefen.)
En terwyl ek so hier sit en tik, kom nog ’n tjommie se WhatsApp deur: “Ek sit met ’n swaar hart. Gister gehoor my posisie by die werk is in gedrang.” En so op die selfoonlyne, met dik vingers wat sukkel om die glasknoppies raak te tik, voel ons saam, streef ons saam en doen ons saam.
Dis al.
Om oor na te dink
Voel jy saam?
Streef jy saam?
Doen jy saam?
Gebed
Here, U woord gee die regte leiding vir ons. Help ons om nie net saam te stem met dit wat geskryf is nie, maar dat ons ook sal gehoorsaam wees en saam voel, saam wees en saam doen. Amen