God se Woord in vandag se woorde

Sak vol vertroue


Ek wonder wat ek alles vir God sal opgee? Is ek bereid om my beursie en al my inkomste vir Hom te gee? Sal ek my lekker bakkie net so vat en vir iemand gee wat dit nodiger het as ek? Sal ek toelaat dat hawelose mense in die leë kamers in my huis intrek? Of as God vra dat ek my gesin moet offer, sal ek dit doen?

Hoe vêr sal jy gaan as God vir jou vra? Tot waar sal jy opoffer?

God het Abraham baie vêr gedruk. Sy enigste seun, die een wat hulle van God afgebid het, die een wat die begin van hulle groot nageslag sou word, wou God hê moet hy soos ’n skaap op ’n altaar doodmaak en offer.

Ek wonder wat het deur Abraham se kop gemaal. Het ek God reg gehoor? Dit kan mos nie wees nie? Hoe werk God se kop dan nou? Hoe maak jy jou eie vlees en bloed op so ’n manier dood?

Die hartseer en trane moes oorweldigend gewees het.

Ek sal nooit die rou en seer vergeet van ’n pa wat my bel en vra ek moet sy seuntjie van ’n paar maande oud, begrawe nie. Hy wou so graag ’n seuntjie hê, maar ’n paar jaar na hul dogter se geboorte, het hulle moed opgegee. Dit was nie vir hulle beskore nie.

Groot was die opgewondenheid twaalf jaar later, toe die seun sy onbeplande opwagting maak. Breëbors het Pa rondgestap en God geloof vir die geskenk. Maar die oggend toe hy op die lewelose lyfie afkom, was daar net rou snikke en ’n hoop vraagtekens.

Dis onmenslik.

So ook die versoek van God aan Abraham. En te midde van ’n klomp onbeantwoorde vrae, baie seer en rou snikke, doen Abraham die onmenslike en begin om die pad na die klipstapel aan te pak.

God het dit gedoen om Abraham te toets. Watter sware toets is dit darem nie. Ek weet regtig nie of ek die toets sou geslaag het nie. Maar Abraham is anders: 19Dit het nie vir Abraham logies geklink nie, maar hy het God vertrou. Hy het geredeneer dat God Isak weer lewendig sou maak, want Hy kan dit doen. Eintlik kan ’n mens dus sê dat Abraham wel vir Isak doodgemaak het en dat hy sy seun weer uit die dood teruggekry het.

Die bestanddeel wat dit vir Abraham moontlik gemaak het om so vêr te gaan en sy seun op die altaar neer te sit en die mes uit te haal, was vertroue. Vertroue in God. Ja, hy het met ’n klomp vraagtekens gesit. Hy het gewonder wat met God aangaan, maar tog het hy geglo en geweet dat God tog ’n beter plan sal bewerkstellig.

Wat God toe gedoen het.

So moet ons ook sekermaak dat ons ’n sak vol vertroue het, sodat wanneer die moeilike tye by ons voordeur instap, ons met alles aan God en Sy beloftes sal vashou. Maak nie saak hoe onlogies die uitdaging voor ons lyk nie, moet ons weet dat God ’n plan sal maak en êrens in die donker bos ’n oplossing sal bewerkstellig – al kos dit ook ’n wonderwerk.

Teks
Hebreërs 11:8-19

Om oor na te dink
Wat sal jy alles vir God opoffer?
Vertrou jy God?
Vertrou jy God sal ’n oplossing bring?

Gebed
Vader, soms wonder ek of my geloof in U sterk genoeg is vir die aanvalle hier op aarde? Ek weet U is almagtig en betrokke hier by U kinders. Ek glo dit. Help my om ook hier in my situasie te weet en te glo dat U ook vir my sal help. In Jesus se Naam, amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek
Gesels gerus hier!
Hulp nodig?
Hallo👋
Hoe kan ons help?