Seën vir die verlepte blommetjies
Dit gaan nie maklik in die wêreld daar buite nie. Ons elkeen het ons eie storie om te vertel. Met party gaan dit woes erg, soos met Christie (skuilnaam):
Mens probeer so hard om op die regte pad te bly – Ek weet mens moenie vrae vra nie – al weet ons nie nou hoekom dinge gebeur nie – ons sal wel eendag die rede daarvoor kry.
Maar hoe bly mens positief na soveel dinge gebeur:
- Ons moes na ‘n kleiner huis toe trek – ons bly nou in ‘n 2-slaapkamer huis.
- September verlede jaar vind ons uit ek is swanger – was eers mismoedig, maar toe besef ons ons sal regkom – die Here sal nie iets oor jou pad stuur wat jy nie kan hanteer nie.
- In Oktober is my skoonma oorlede – sy was altyd net goed vir ons – en dit was ‘n geweldige groot skok.
- In Desember steel hulle ons kar buite ‘n winkelsentrum.
- In Januarie word daar by ons huis ingebreek – hulle kom weg met baie goed – Die tv, x-box – die kinders se tablets en Blue tooth oorfone van Kersfees. Al my en my dogter se juwele. Tot toe pakke doeke.
Weereens is dit ‘n finansiële terugslag vir ons – die ekstra uitgawes om ‘n nuwe kar te kry – die ekstra uitgawes om die huis se deur te vervang en al die slotte – want mens voel net te onveilig in jou eie huis.
Ons almal kan met een of sommer ’n paar van Christie se terugslae saampraat. Dis asof dit net erger raak. ’n Mens se lus raak op vir lewe. ’n Mens wil dan eintlik net nie meer aangaan nie.
Ek post op Facebook ’n eenvoudige prentjie van ’n blommetjie wat in die woestyn groei met die woorde: “God het jou geplant: Blom net daar.” Daar is baie kommentaar. Dié drie raak my diep:
- My elke dag leuse was ‘blom waar jy geplant is’, maar my blommetjie het doodgegaan … Ek is moeg.
- Ek dink my blom is dood. Ek’s moeg vir die lewe. Ek kan nie meer so aangaan nie.
- My blommetjie is verlep. Ek’s doodmoeg.
Baie van ons se blommetjies verlep.
Wat sê ’n mens?
Ek kom sit hier agter my lessenaar om stil te word en lees my teks vir die dag en ek kry die antwoord. Ons moet bid ja. Ons moet vir mekaar intree, want daar is dae wat ander nie eens kan bid nie. Dae wat dit vir hulle voel hulle gebede trek nie verder as die dak nie. Maar ons moet nog méér doen. Ons moet oor mekaar die seën uitspreek.
Soos Paulus: 2… Mag God die Vader en Christus Jesus ons Here vir jou baie goed wees en jou in Sy liefde omvou. Mag jy die vrede ervaar wat net Hulle vir mense kan gee.
Dis asof ons versterkings inkry om ons uit die benarde situasie te red. In God en Jesus se liefdevolle arms kan ons weer blom en kan ons rustig raak en vrede kry.
Daarom, laat ons vir almal wat ons liefhet die seën van die Here toebid. Daarom bid ek dit ook nou vir jou. 2 … Mag God die Vader en Christus Jesus ons Here vir jou baie goed wees en jou in Sy liefde omvou. Mag jy die vrede ervaar wat net Hulle vir mense kan gee.
Teks
2 Timoteus 1:1-2
Om oor na te dink
Hoe lyk jou blom?
Hoe lyk die mense om jou se blom?
Hoe kan jy vandag prakties ’n verskil maak?
Gebed
Vader, U weet van elke verlepte blommetjie wat ook op ’n tyd geblom het. Ek vra vandag om elkeen van daardie blommetjies te seën en aan hulle nuwe lewe te gee. Laat elke blommetjie weer sy kop oplig en boontoe kyk. In Jesus se naam. Amen.