Sinvolle tyd
Daar was ’n stadium toe ek flieks gekyk het of dit uit die mode gaan. Enige fliek. Maak nie saak hoe oud of hoe swak nie, elke aand het ek voor die TV gelê. En my probleem is dat ek nie ’n fliek halfpad kan los nie. En as die fliek uiteindelik tot ’n einde gekom het, is ek so vies vir myself dat ek soveel tyd gemors het. Die volgende oggend het ek altyd moeg opgestaan en heeldag net op 3 pistons geloop. Gelukkig het ek die gewoonte ontgroei en die TV sien my deesdae maar min.
Soms is daar dinge wat jou tyd en energie steel. Dinge wat nie eintlik ’n positiewe bydrae tot jou lewe voeg nie. Sommige mense word weer deur die sosiale netwerk ingetrek. Hulle bestee ure op Facebook of Instagram of Pinterest. Die vraag is of dit sinvol was. Nee, die sosiale netwerke is nie per se sleg nie. Wanneer dit egter jou tyd steel om in ander se lewe ’n verskil te maak, staan die vraagtekens een na die ander op.
Daar is nog baie ander plekke waar ons toelaat dat ons tyd van ons gesteel word en dit is nie binne God se wil nie. Hier is ’n goeie stukkie raad: 15Wees baie versigtig hoe julle leef. Leef soos mense wat weet wat God van ’n sinvolle lewe verwag en nie soos mense wat niks daarvan weet nie.
Jy moet weet dat jy met ’n doel op die aarde is. Jy is nie maar net toevallig daar waar jy is nie. God het ons daar geplaas om iets te doen – om ’n verskil te maak. Wanneer ’n mens iets vir ander doen, wanneer iets wat ons gedoen het waarde tot ’n ander se lewe toevoeg, word ons lewens sinvol. Dan maak dit vir ons sin dat ons op ’n sekere plek op ’n sekere tyd ’n sekere klomp energie los wat mense se lewens verander.
Wanneer die wêreld om my druk, wanneer die land mors en die mense met wie ek in aanraking kom saam mors, voel ek self nie te goed nie. Dan kla ek saam met die ander steen en been. Hoop storm by die deur uit. Alles word donker en ek sien nie meer die son skyn nie. Dan wil ek aan my polse begin knaag.
Dit is sulke tyd wat ek iemand nodig het om my op te help, om my aan te spoor en in die regte rigting te druk. Hier is dalk so ’n stukkie vir my en jou: 16Moenie jou tyd mors nie. Maak die beste gebruik van elke geleentheid wat jy kry, want ons leef in moeilike en slegte tye.
Moeilike tye is ’n gegewe. Daar gaan altyd een of ander stuk swaar sy lêplek in of naby ons gaan kom maak. Wat gaan jy doen? Gaan jy toelaat dat die omstandighede jou gemoed bepaal of gaan jy die omstandighede by die horings pak?
Carpe diem. Gryp die dag. Ons kan nie toelaat dat omstandighede ons energie en tyd steel nie. Êrens in ons kop moet ons ’n paar verstellings maak en besef dat God ons elkeen ’n klomp gawes gegee het om ’n verskil te maak en dan planne maak om dit in die wêreld te gebruik.
Ons moet besef dat daar baie dinge is wat ons tyd wil steel, maar hierteen moet ons waak. Al is die omstandighede hoe sleg, al lyk dit vir ons of daar geen waarde toegevoeg kan word nie, moet ons nog steeds probeer om ’n verskil te maak. In alles wat ons doen, laat ons dit sinvol doen. Laat ons maak soos ons vermoed God wil hê ons moet maak. Dan sal ons ons tyd sinvol aanwend en sal ons en ander anders wees!
Om oor na te dink
Weet jy hoe God wil hê jy moet lewe?
Waar ontbreek sinvolheid in jou lewe?
Waar kan jy soms jou tyd beter gebruik?
Gebed
Jesus, hoe groot is U Naam. U het ons gewys om nie tyd te mors nie. U het ons gewys hoe om die pad altyd sinvol te stap, al is die omstandighede nie so lekker nie. Ek weet daar is tye wanneer ek met tyd mors. Help my om nie in die gat te trap nie, maar my tyd sinvol saam met U te gebruik. Amen