God se Woord in vandag se woorde

Sit jou skaamte op ys


8Moenie skaam wees om oor die Here te praat nie, net so min as wat jy skaam hoef te wees dat ek, as jou vriend, ter wille van Hom hier in die tronk sit.

Ek wonder of Timoteus vir sy vriende vertel het van sy mentor wat in die tronk sit? Sou dit nie sy spoed so bietjie gebreek het nie? Sou dit nie die mense aan wie hy die evangelie moes bring ’n bietjie laat wonder het nie? Was dit nie vir Timoteus ’n klippie in die skoen wat hom gekeer het om volheid met die evangelie te hardloop nie?

Dis heel moontlik, want dit kan ook die rede wees waarom Paulus hom eintlik aanspreek om opnuut die vuurtjie weer aan te blaas wat lank gelede so vurig vir die evangelie gebrand het. Ons moet besef dat God vir ons elkeen, in watter omstandighede ons ons ook mag bevind, geroep het en dat ons nie hoef bang of skaam te wees om vir die evangelie op te staan nie.

Dalk het jy jou eie redes of verskonings waarom jy deesdae nie meer so gretig en vurig oor jou geloof praat en die verlossingsboodskap van Jesus Christus met ander deel nie. Ja, dit is so dat al hoe minder mense deesdae openlik daaroor praat, maar die ironie is dat al hoe meer mense die boodskap nodig het.

Mense sukkel met sielkundige probleme soos nooit tevore nie. Selfdood is iets waarvan ons al hoe meer hoor. Mense is op soek na sin en betekenis, na hoop en liefde. En ons? Ons uhm en ahh eerder saam met die meerderheid as wat ons opstaan en praat oor dit wat regtig saak maak.

Ons moet besef dat die evangelie die antwoord is waarna elke persoon eintlik smag. Almal weet of besef dit net nog nie. Met groot bravade skiet mense gou vir God en godsdiens af, maar as jy so ’n persoon alleen kry, is dit juis hy of sy wat in die alleenheid op soek is na God.

Moenie skaam wees nie. Moenie bang wees nie. Moenie stilbly oor die verlossende evangelie wat ander mense bevry van die swaar las wat hulle rondsleep nie. Nee, jy hoef die ouens nie voor die bors te gryp en te vra wat is hulle storie nie. Jy sal weet wat om te doen as jy volgende keer om die vuur staan of saam met jou vriende tee drink. Sit net eers die skaamte op die ys. Op ys, ja!

Teks
2 Timoteus 1:8-12

Om oor na te dink
Is jy soms skaam om jou geloof met ander te deel?
Besef jy dat dit hulle hele lewe kan verander?
Om die evangelie met ander te deel, is ’n verantwoordelikheid en ’n voorreg.

Gebed
Vader, ek bely my stilte en skaamte. Ek weet ek moet die mense om my vertel, maar ai, my mond bly toe. Gee my krag. Gee my wysheid. Lê die woorde in my mond en laat ek praat. Praat oor U en van U. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek