God se Woord in vandag se woorde

Skatte


Ons sien elke dag advertensies van blink skatte op die televisie, op advertensieborde langs die pad en in katalogusse wat in ons posbusse gegooi word. Blink en duur diamante in ringe en hangertjies wat tog te aanloklik lyk.

Baie is gerat en gretig om skatte in die kluise te hê. Veral vrouens hou daarvan. Ek onthou nog toe ek en my vrou lank gelede begin praat het van verloof raak. Die soeke na ’n ring met ’n goeie diamant, wat volgens die verkopers uiters belangrik was, het my vrou oortuig dat ’n ring inderdaad ’n goeie belegging kan wees … maar kom ons los dit daar, want anders is ek dalk gou weer in die moeilikheid.

Paulus weet dat ons aangetrek word deur skatte. Daarom praat hy van Jesus as die skat. 2… Hulle het die geheim van God, naamlik Jesus, leer ken. Dit het hulle ryk laat voel. Skatte word in ’n skatkis gebêre. Om die goddelike dinge te ken en te verstaan hoe dit werk, is vir Christene soos sulke waardevolle skatte. Dit is in Jesus opgesluit en kan net by Hom gekry word.

Wanneer ’n mens Jesus ontmoet, wanneer ’n mens regtig deur Hom gelei word, besit jy die grootste skat waarvoor jy ooit kon vra. In die 1983-vertaling word die skat verder beskryf: 3… en in Hom is al die verborge skatte van wysheid en kennis te vind.

Hoeveel keer het ek nie al by ’n kruispad in my lewe gekom waar ek so graag net presies wou weet wat ek moet doen nie! Hoeveel keer het ek nie al op my knieë gesit en vir God gevra om my asseblief te help met die besluit nie, want ek weet nie wat die regte ding is om te doen nie. Dis wysheid en kennis wat ek gekort het.

Kyk maar na suksesvolle mense. Hulle kén van. Op hulle gebied is hulle die voorlopers en hulle weet van alles. Hulle het ’n hoop wysheid en kennis in pag en dit maak vir hulle ’n klomp skatte bymekaar.

Die groot geheim van die lewe hier op aarde is binne ons almal se bereik. Die grootste skat is Jesus en Hy staan gereed om sy intrek te neem by elkeen wat Hom innooi. Saam met Hom kom daar nog ’n hoop voordele waarvan wysheid en kennis die grootste skatte is.

Dis mooi, maar dadelik vra ek myself af hoekom ek dan nie altyd die skatte wat tot my beskikking is, gebruik nie. Daar is soveel plekke waar ek verwoesting saai omdat ek nie die skat van Goddelike wysheid gebruik nie.

Dit is omdat ek nie vir Jesus genoeg plek in my lewe gee nie. In die woelige lewe maak ons net nie genoeg tyd om by Jesus se voete te sit en Hom toe te laat om ons bewus te maak van al die skatte wat ín Hom en tot ons beskikking is nie.

Moenie mislei word en aangetrek word na wêreldse skatte wat geen ewigheidswaarde het nie. Besef wat jy het in Christus en gebruik die skatte wat deel is van elkeen wat in Hom glo.

Skrifgedeelte

Kolossense 2:2-5

Om oor na te dink

Waar het jy al wysheid en kennis kortgekom?

Weet jy waar jy dit kan kry?

Gebruik jy dit?

Gebed

Here, U en ek weet dat ek baie meer leiding van U nodig het. Ek weet Jesus beskik oor al die wysheid om my op die regte pad te lei. Help my om nie verder te soek vir skatte as net by Jesus nie. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek
Gesels gerus hier!
Hulp nodig?
Hallo👋
Hoe kan ons help?