God se Woord in vandag se woorde

Skoene uitskop


Dis nogal moeilik om ’n mens se fokus op die lewe hierna te sit. Ons is so besig om in die wêreld te leef. Dit trek soveel energie om net die syfers aan die einde van die maand te laat klop. Daar is soveel vereistes en dinge om te doen by die werk en dan staan die gesin nog ook bakhand vir tyd en nog meer. En êrens hoor ek dat ek nog ’n roeping ook het om uit te leef.

Ons is moeg en wil net ’n bietjie alleentyd hê om te rus.

Wanneer ’n mens al die balle in lug hou en fokus om nie een te laat val nie, is dit moeilik om op die lewe hierna te fokus. Tog moet ons eintlik dit deel maak van die lewe, want op ’n manier is dit die prys na die wedloop hier in die lewe. Ons wat in God glo, gaan eendag saam met Hom en net soos Hy rus.

9Vir God se mense wag daar dus ’n spesiale rus soos God op die sewende dag gerus het. 10Iemand wat vir ewig saam met God sal rus, sal net soos God rus nadat Hy alles gemaak het.

Dis voorwaar iets lekker om na uit te sien. Dit moet ons motiveer om dit wat ek nou hier op aarde doen so goed as moontlik te doen. Carpe Diem. Gryp elke dag met albei hande aan en doen jou uiterste bes. Eendag gaan ons klaar geswoeg en gesweet wees. Dan kan ons ons skoene uitskop om nooit weer aan te trek en nooit weer moeg te word nie.

Ek spin mos elke dag en ek moet bieg, ek doen dit nie omdat dit vir my lekker is nie. Genot is nie vir my sinoniem met spin nie. Genot en oefen hoort nie eintlik in dieselfde sin nie. Maar tog doen ek dit, want ek voel lekker as ek klaar is daarmee. Dit hou my gewig in toom en ek het meer energie deur die dag. Dis hierdie uitkomste wat my deur die sweetsessie trek. Dit motiveer my om elke oggend op die fiets te klim en my gô uit te trap.

Net so moet die rus in die hemel eendag saam met God vir ons ’n trekpleister wees om elke oggend op te staan en ons lewe op volle vaart te lewe. Daar wag ’n prys op ons en daarna moet ons uitsien. Die dag as ons die wêreld verlaat en ons handskoene vir die laaste maal uittrek, sal ons in die ewige rus instap.

Voorwaar iets om na uit te sien! Regtig iets wat ons elke dag kan motiveer om net weer te probeer en net nog harder te werk. Want eendag gaan ons rus …

Net so ’n voetnota: Wanneer ons geliefdes aan die dood afstaan, moet ons hulle nie terugwens nie. Eintlik moet ons dankbaar vir hulle part wees dat hulle reeds die ewige rus in is. Die pyn en seer en swoeg van die wêreld se dinge, is vir hulle verby en hulle sit lekker met hul voete in die lug.

Mag ons ’n stukkie van die einde van ons lewe in die oog hê en dit daar hou. Mag dit ons help en aanvuur om elke dag ons deel te doen en nog meer. Mag dit ons motiveer om seker te maak dat ons nooit, maar nooit, hierdie teiken mis nie.

Teks
Hebreërs 4:7-11

Om oor na te dink
Hoeveel van die lewe hierna het jy in die oog?
Besef jy dat God se rus vir jou beskore is?
Hoe kan jy die rus nou deel maak van jou lewe?

Gebed
Onse Vader, dankie dat ons eendag saam met U kan rus. Help my om dit ook in die visier te hou. Help my om vandag alles te doen en nog meer. In Jesus se Naam, amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek