God se Woord in vandag se woorde

Skoongewas


Ek kry êrens die mooi storietjie:

’n Seun wil graag soos sy oupa wees en besluit om alles soos sy oupa te doen. Hy staan vroeg op, drink saam met Oupa koffie en eet beskuit. Toe Oupa die Bybel nader trek, maak hy ook so.

Later die oggend vra die seun vir sy oupa: “Oupa, wat help dit om die Bybel te lees, want dis nie lank nie of ek het alles vergeet. Is dit dan die moeite werd om die Bybel te lees?”.

Oupa het nie baie woorde gehad nie, maar was baie wys. Hy sê vir die jong seun om ’n die leë sak waarin die steenkool aangedra word en pikswart gevlek is, te neem en vol water by die rivier te gaan maak.

Die seun het seker gewonder of sy oupa se kop raas, want wie kan nou water in ’n sak aandra? Maar die seun wou so graag sy oupa tevrede stel en neem die sak na die rivier en maak dit vol.

Soos hy gedink het, is die sak dolleeg toe hy terugkom by sy oupa. Oupa is effe mismoedig met die seun en sê hy moet weer probeer. Die keer hardloop die seun so gou as moontlik terug, maar nou ja, die sak is weer leeg toe hy by Oupa aankom.

Oupa gee nie bes nie en jaag die seun weer terug om water te gaan haal. Elke keer dieselfde resultaat: Die sak is leeg. Later is die seun na aan trane en bars uit, “Nee wat, Oupa. Hier gebeur niks nie!”

Toe wys die oupa die seun dat daar wel iets gebeur. Die sak het al hoe skoner geword soos die swart roet uit die sak gewas is. Elke keer as die seun die sak by die rivier volgemaak het, het die water deurgeloop en van die swart roet uitgewas.

Die oupa sê vir die seun: “Boeta, dis wat gebeur as jy die Bybel lees. Al verstaan jy nie alles wat jy lees nie. Al vergeet jy die meeste wat jy gelees het, gebeur daar iets aan jou binnekant. Jy word skoongewas.”

God se Woord is dinamies. ’n Mens kan nie anders as om anders op te staan, nadat jy deur God se Woord gelees het nie. Ja, dit voel dalk of niks gebeur nie. Dalk kan jy, soos ek, nie eers lekker na net vyf minute onthou wat jy gelees het nie. Maar deur die werking van die Heilige Gees gebeur daar op die lang duur iets met jou.

Jy word skoongewas. Die verkeerde dade in jou lewe kry name en jy wil dit later nie meer doen nie. Jy hoor van jou doel op aarde en stadig begin jou voete en hande in daardie rigting werk.

Daarom die pleidooi: 22My liewe vriende, ek vra julle baie mooi: neem tog asseblief die brief ernstig op, want dit is nie ’n lang brief nie. Ek het dit spesiaal geskryf om julle moed in te praat.

Teks
Hebreërs 11:20-31

Om oor na te dink
Lees jy God se Woord?
Lees jy God se Woord genoeg?
Hoe moet jy maak om nog meer skoongewas te word deur God se Woord?

Gebed
Vader, ek weet ek moet meer U Woord lees en leef. Ek weet dit is lewensveranderend en lewensgewend. Help my om meer tyd te maak om daarby uit te kom, elke dag. In Jesus se Naam, amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek