God se Woord in vandag se woorde

S*ks: Stop jou nonsens


5Moenie toelaat dat dinge waarvan Jesus nie hou nie, enige rol in julle lewe begin speel nie. Raak daarvan ontslae sodra dit in jou lewe kop uitsteek. Ek praat van dinge soos ontoelaatbare seks of vuil gedagtes wat op vieslike optrede uitloop. Om sulke dinge net te loop en begeer is al verkeerd. En dan is daar mense wat nooit genoeg kan kry nie. Hoe meer hulle het, hoe meer wil hulle hê. Asof dit hulle god is, wy hulle al hulle tyd en energie daaraan om net al hoe meer in die hande te probeer kry.

Soms doen ’n mens iets verkeerd. Jy voel die volgende oggend skuldig en dan word dit onder die tafel in gevee en ons hoop ons het vir altyd daarvan vergeet. Maar dan lees jy so ’n vers raak en dan raak ’n mens ongemaklik, onrustig, eintlik geïrriteerd. Met hierdie vers word ’n rofie of twee oopgekrap wat maar net nie gesond wou raak nie.

Paulus praat hier baie reguit. Hy kom gryp jou voor die bors en sê: Stop jou nonsens. Jy is besig om goed droog te maak!

Elke aand word jy gekonfronteer met pornografie op die televisie. Elke oomblik van die dag kan jy “s*ks” intik op Google en miljoene pornografiese foto’s beloer. Selfs jou vriende help met die aanstuur van simpel e-posse of WhatsApps op die selfoon. Wat maak jy hiermee?

Dalk is dit tyd dat jy standpunt inneem hieroor. Dalk is dit besig om jou van binne af op te vreet. Dalk nie, maar pasop, gou-gou het die groot monster jou in sy kloue beet, want sien, die klomp goed neem van jou besit en elke keer speel die prentjies oor en oor in jou kop.

Later tree jy so op, jy raak iemand anders en, soos Paulus sê, loop dit uit op vieslike optredes. Ja, dalk het jy selfs al ’n paar draaie gaan maak by daai plek waar die dames in hulle Eva pakkies ronddans. Dalk loer jy as iemand nie kyk nie na ’n skerm. Vandag kom sê God hier deur sy Woord: Pêl, jy speel met vuur! Stop dit dadelik!

Dalk is pornografie nie jou ding nie. Daar is soveel ander dinge wat ons doen waarvan Jesus nie hou nie. Dinge wat ons hele menswees begin oorneem met die netto effek dat daar nie meer plek vir Jesus in jou lewe is nie. Is dit geld of is dit roem? Is dit aanvaarding?

God is ’n jaloerse God en sal dit nie duld nie. God hou nie van kompetisie nie. Hy wil nie stoei vir ’n plekkie in jou lewe nie. Ons sien hier ’n ander kant van God: 6Hierdie soort dinge maak dat God mense straf. Hulle steur hulle mos nie aan wat God wil hê nie.

Nee, ek wil jou nie met vrees vir God in ’n hoek vasdruk nie, maar tog staan die vers hier en dit help nie ons maak ons oë daarvoor toe nie. Ons moet besef dat daar gevolge is vir dit wat ons aanvang!

Raak stil voor God, al is dit nie maklik nie. Bely daardie ding wat voortdurend opkom as ons moet nadink oor die dinge wat ons doen waarvan ons weet God nie hou nie.

Weet jy dat hierdie ding jou spoed breek? Weet jy dat die ding veroorsaak dat jy ten volle God se vreugde in jou lewe smaak?

Komaan! Kniel voor God en laat die dinge uit jou binneste vloei. God is getrou en regverdig en sal jou vergewe!

Sterkte!

Teks

Kolossense 3:5-6

Om oor na te dink

Besef jy die impak van pornografie?

Is daar ’n paar skuiwe wat jy moet maak?

Hoe gaan jy dit maak?

Gebed

Vader, U praat vandag reguit met elkeen van ons. Help ons om te erken dat daar dinge in ons lewe is wat U nie aanstaan nie. Help ons om gehoorsaam te wees en daarvan ontslae te raak. Ons wil U nie verder teleurstel nie. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek
Gesels gerus hier!
Hulp nodig?
Hallo👋
Hoe kan ons help?