Snoeiwerk benodig. Ai!
Iets pla my van vers 21. Al het ek reeds ’n paar maal oor die vers geskryf, is daar nog iets. Dis so mooi om te hoor dat ons ’n bak is en dat God ons wil gebruik waar ons woon, werk en speel. Maar hier is ’n voorwaarde: 21As iemand ontslae geraak het van al die verkeerde dinge in sy lewe en God het hom vergewe, is hy so spesiaal soos een van daardie mooi, duur bakke.
Ons moet eers die bak leegmaak van die verkeerde goeters wat ons so geneig is om saam te dra voordat daar plek is om die goeie en mooi vrugte in te pak.
Eintlik wil ons nie hoor van die slegte vrugte wat ons in ons bak ronddra nie. Ons wil nie hoor van dinge wat ons anders moet doen nie, want eintlik is dit lekker om dit te doen. Ons klou op ’n manier so vas aan die dinge dat as iemand net iets daaroor wil sê, ons sommer dadelik die dinges in is.
Dit is al klaar genoeg moeite om jou gawes te laat grondvat. Nou moet ons nog eers seker maak dat ons die verkeerde dinge uit ons lewe kry. En dis nie maklik nie. Dis nie lekker nie. Tog is dit broodnodig.
Een keer ’n jaar is ek diep in die moeilikheid. Dis wanneer ek laat op ’n Saterdagmiddag by die huis instap, moeg geploeg in die tuin, met hande wat nie meer wil oop en toe nie en skouers wat hang. Ek is in die moeilikheid omdat ek die tuin verwoes het en daar nou net kaal kolle is, oral waar daar die oggend nog baie mooi en groot struike was.
Dan moet ek weereens, soos al die vorige jare, mooi verduidelik: My skat, die struike se bopunte is mooi groen, maar kyk net aan die onderkant. Dis net dooie takkies met geen blare nie. As ek nie so nou en dan die struike stomp afsny nie, gaan ons later ’n tuin vol dooie struike hê met ’n paar groen klossies hier en daar.
’n Paar maande later kom my vrou, soos elke jaar tevore, na my toe en is dankbaar dat die tuin weer so mooi en ruig is.
Ek dink nie dis maklik vir die struike om so in die bek geruk te word nie. Dis nie maklik om gestroop te word van alles en nog wat nie. Maar dis nodig vir die oorlewing van die struik. Vir die struik om struik te bly, moet daar nou en dan met ’n snoeiskêr en soms met ’n saag ingeklim word.
Net so met ons. Ons moet nou en dan ook gesnoei word. Jy sien, ons word so gewoond aan ons manier van dinge doen dat ons later nie meer agterkom dat ’n gedeelte van ons nie meer so mooi lyk nie. Ons kom nie agter dat die vrugte wat ons dra, eintlik nie meer aanvaarbaar is nie.
Ons moet seker maak dat ons bakke nie vol slegte vrugte lê nie. Ons moet selfondersoek doen en indien nodig (wat meeste van die gevalle maar so is) moet ons die snoeiskêr inlê en afsny wat nie hoort by ons lewens as kinders van God nie.
Dis beslis nie maklik nie, maar kom ons probeer ons bes. Kom ons vra God se Gees om ons te wys waar is die slegte vrugte. Kom ons vra die Gees om aan ons die krag te gee om met die snoeiskêr in die hand die dooie takke uit te sny.
Teks
2 Tim 2:20-26
Om oor na te dink
Is daar slegte vrugte in jou bak?
Waarvandaan kom hulle?
Hoe kan jy van hulle ontslae raak?
Gebed
Vader, ek weet daar is vrugte in my bak wat nie daar hoort nie. Help my om daarvan ontslae te raak sodat U my kan vergewe en ek bruikbaar is vir U. Amen.