God se Woord in vandag se woorde

Soli Deo Gloria


Ons gebede klink dikwels soos inkopielysies. Daar is mense wie se gebede anders klink, maar as jou gebede soos myne klink, is dit meestal ’n rits dinge wat ek vra: Hou U hand oor die en daai, sorteer asseblief hierdie probleem uit, maak hom of haar gesond en so vra ons vir die een ingryping van God na die ander. Dis ’n inkopielys.

Tog is gebed soveel meer as net ’n skietgebed waar ek soos by ’n Drive Thru-interkom staan en my benodigdhede vir die oomblik of die dag aframmel. Gebed is ’n gesprek wat binne ’n verhouding plaasvind. Dis ’n gesprek waar ek en my behoeftes nie in die middel staan nie. Om uit die middel van die gebed te skuif, moet ek God eer en vir Hom dankie sê vir alles wat Hy vir ons gee.

Paulus bid dit vir die mense van Kolosse, maar ook vir jou en my: 12Ek bid ook dat julle met ’n blye glimlag aan die Vader alle eer sal gee en Hom sal grootmaak. Sê vir Hom dankie. Hy het alles gedoen wat nodig is…

Kom ons sê dit nou maar reguit vir mekaar: As dit nie vir God en sy Gees was nie, was ons almal van die pad af. Dan was ons verdwaald en vir seker op pad na die ewige vuur. Omdat God egter eerste na ons uitgereik het deur middel van Jesus wat in ons plek gesterf het, het ons ’n kans. As dit nie daarvoor was nie, sou ons dit eenvoudig nie gemaak het nie.

Ons mag nooit ophou om vir God hiervoor te eer nie. Elke dag moet ons dit oor en oor vir Hom sê. Al die eer in die wêreld behoort aan Hom. Alles wat jy regkry, is omdat God agter jou staan. Dan kan jy mos nie enige eer vat nie. Ja, jy het dalk hard geoefen en baie tyd ingesit. Mooi so, maar tog kom selfs daai eer God toe, want as dit nie vir Hom was nie, was ons soos ’n ballon sonder lug.

Hoe meer ons God eer, hoe meer raak ons bewus van alles wat Hy vir ons doen, hoe meer skuif ons weg van die middelpunt van ons gebede en hoe meer kry God sy regmatige plek in ons lewe.

Selfs hier besef ek my tekortkominge. Ek het nie altyd genoeg of die regte woorde om God te eer nie. Dit is sulke tye wanneer ek na die Psalms draai en saam met die digters se woorde God ordentlik eer. Neem nou Psalm 27 wat ek net voordat ek hierdie stuk begin skryf het, gelees het. Wanneer ek die Psalm hardop lees, word God se Naam geëer, want

  • dis Hy wat almagtig is en ons deur ’n krisis help
  • Hy is ’n God wat omgee en ons uit die moeilikheid red
  • God los ons nooit alleen nie
  • Hy waak oor ons en beskerm ons teen die aanvalle van die bose
  • Hy verdedig ons teen mense met verkeerde bedoelings
  • Hoekom moet ek bang wees vir ’n leër wat laer trek teen my, want God staan agter my.

’n Vriend van my het met sy fiets geval en is in die hoësorgeenheid. Dit gaan nie goed met hom nie. Ek weet nie eens of hy by sy positiewe is nie, maar met vrymoedigheid stuur ek die 3 verse van Psalm 27 vir hom, want ek weet dat God ook vir hom beskerm daar waar hy aan masjiene gekoppel is. Ek glo dat God vir hom sal sorg.

Ek weet hy gaan anders wees wanneer hy bykom en die verse lees, want ék is anders. Ek is rustiger, want ’n grote God kyk oor my en oor Hom. Dan besef ek maar net weer dat ek niks van die eer kan neem nie. Dis net God wat help, red, waak, beskerm, verdedig, agter my staan…

Soli Deo Gloria. Aan God kom al die eer toe.

Teks

Kolossense 1:12-14

Om oor na te dink

Waarvoor is jy dankbaar?

Waarvandaan kom dit alles?

Eer jy God genoeg daarvoor?

Gebed

Ons Vader, U Seun het alles gedoen wat nodig is sodat ons verlos kon word van die sonde en sodat ons kan leef soos U wil hê! U staan ons by in alles deur middel van U Heilige Gees. Ons is nooit alleen nie. Aan U al die eer. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek