God se Woord in vandag se woorde

Sonde sus jou aan die slaap


Ek hou van eet. Ek hou daarvan om gedurig te eet – dié dat ek so lyk. Vir my is elke maal ’n geleentheid om bymekaar te wees en lekker saam te kuier.

’n Vriend van my is aan die vas. Ek wil dadelik vir hom sê dat ek dit nie sal kan doen nie, want sien, ek geniet mos die eet ding te veel. Maar ek luister hom uit. Hy doen die Daniël vas. Hy vertel hoe lekker dit is en dat jy nooit honger is nie. Jou liggaam raak skoon van al die verkeerde dinge wat ons so inprop. Eintlik het jy meer energie en lus vir die lewe. En kosmaak is steeds ’n geleentheid waar almal lekker saam in die kombuis kuier. Die verskil is net dat dit baie meer gesond is.

Ek raak al hoe meer geïnteresseerd in die vas ding en vra hom hoekom hy dit doen. Hy sê: “Ons raak so gewoond aan ons lewenstyl dat ons nie eintlik meer besef dat ons so bietjie van die pad afgedwaal het nie. Dis soos om ’n kar te bestuur terwyl jy baie vaak is. Jou kop knik so een of twee keer en die volgende stap is slaap. As jy gelukkig is, skrik jy wakker met al die chaos om jou. Om op so ’n vas te gaan, eet ek nie net reg nie, maar ek maak genoeg tyd om in God se teenwoordigheid te wees sodat Hy my kan wys waar ek van die regte pad afgedwaal het.”

Dit maak nogal vir my sin wat my vriend doen. Dis soos ’n rigtingaanpassing sodat hy kan sien waar hy gewoond geraak het aan dinge, waar hy dalk aan die slaap geraak het en waar hy weer op God se pad kan kom.

Sonder dat ons dit besef, raak ons soos slaapwandelaars: 7Die sonde is soos ’n slaappil. Dit sus mense aan die slaap. Daarom strompel daardie spul wat hulle aan drank oorgee soos slaapwandelaars van die een dronkpartytjie na die ander.

Dalk is dit nie die een dronkpartytjie na die ander nie. Dalk is dit iets waarvoor ons wéét God ons geroep het, maar wat ons nié doen nie. Dalk het ons toegelaat dat iemand té naby aan ons gekom het en die kans dat dit ons van die regte pad lok, net om die draai. Dalk is dit ’n vennootskap of ’n finansiële besluit wat nie so vars is nie en jou al hoe vêrder van God se plan vir jou lewe wegsmokkel.

Miskien het dit tyd geword dat ons ook soos my vriend ’n pen inkap om seker te maak waar ons aan die slaap geraak het. Ek dink sommer nou aan die gedeelte waar God sê ons is Sy eerste liefde. Is God nog ons eerste liefde of het ons drome, dit waarna ons so dag vir dag jag, ons eerste liefde geraak?

Ons moet onsself wakker skud. Ons moet ons familie en vriende wat hier om ons sit ook wakker skud, want net-nou is dit te laat. Mag God ons oë oopmaak, letterlik en figuurlik. Mag Hy met Sy Gees ons weer terug op die pad bring, sodat ons by Sy droom vir ons lewe kan uitkom.

Mag dit vir jou en my waar wees.

Teks

1 Tessalonisense 5:4-11

Om oor na te dink

Waar slaap jy?

Watter dinge doen jy wat nie in lyn is met God se droom vir jou nie?

Hoe kan jy ’n pen inkap?

Gebed

Here, daar is ’n hele paar plekke in ons lewens waar ons aan die slaap geraak het. Dinge wat nie aanvaarbaar is vir U nie het normaal geraak vir ons en ons weet dat dit ons al hoe verder van U wegrokkel. Ons het U hulp so nodig. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek