God se Woord in vandag se woorde

Sonder bagasie


Nadat die mens in die sonde geval het, was daar nie veel hoop nie. Die sonde het gemaak dat daar vyandskap tussen God en die mens gekom het. Die gevolg was dat die mens bestem was vir die ewige vuur.

En vandag is dit nóg so. Die sonde loop nog orals om ons rond. Om elke hoek en draai word ons gepeper en uitgelok om verkeerde dinge te doen. Neem nou maar net een voorbeeld. As iemand iets doen wat nie binne ons wil is nie, hoe vinnig raak ons nie kwaad nie? Dis sonde. Dis buite die wil van God.

Sonde is ’n realiteit in ons elkeen se lewe. Sonde is alive and kicking en dit bly ’n stryd om staande te bly! Kom ons erken dit maar.

Toe Jesus op die aarde was, het Hy nie die sonde kom wegneem nie. Sonde bly die gevolg van vele menslike keuses. God het ons ’n verstand gegee om te kies. Dis juis die rede hoekom ons vir ’n tyd op die aarde is – om ’n keuse vir Jesus se verlossing te maak of daartéén te kies. En met dieselfde verstand kan ons vir of téén sonde kies. Dis jammer dat ons almal een of ander tyd verkeerd kies en in sonde verval.

Die gevolg van sonde is die dood. Dit is God se straf. As jy sondig, verdien jy om in die ewige vuur te brand.

Dankie tog vir God se liefde en dat dié prentjie nie vir Hom gewerk het nie. Hy kon dit nie oor sy hart kry dat die een mens na die ander in sonde val en tot die dood toe veroordeel word nie. Daarom maak Hy ’n plan. ’n Plan wat vir die mens se verstand té groot is om te verstaan, want hoe kan God sy Seun opoffer, laat sterf vir mense wat die heeltyd verkeerde keuses maak en wegbeur van God?

God se Seun, Jesus Christus is die antwoord: 14Hierdie Seun raak namens ons ontslae van die skuld wat ons deur ons sondes op ons gelaai het. Deur sy toedoen word ons sondes vergewe.

Deur ons sondes is ons diep in die moeilikheid by God. Ons het so ’n groot las vir onsself bymekaargemaak dat ons oë traan van swaarkry. Die ergste van alles is dat ons niks kan doen om hiervan ontslae te raak nie. Ons kan nie ’n 100 of 1000 of selfs 1 miljoen goeie dade doen om een klein sonde uit te vee nie. Ons het eenvoudig net nie die vermoë nie.

Dankie tog vir Jesus wat by magte was om die pak namens ons te kon vat. Die effek of gevolge van ons sondes het Jesus aan die kruis kom dra. Elke keer as ons sondig en in berou voor God staan, is God getrou en regverdig en tree Jesus in en vat in ons plek die straf wat ons eintlik verdien.

Sjoe, God se liefde vir die mens is onverstaanbaar. Deur Jesus se kruisdood kom wys God vir ons hoe lief Hy ons regtig het. Daar is geen ander of groter bewys van liefde nie. Die gevolge, die straf van ons sonde dra Jesus namens ons en ons ontvang hope vergifnis. Jesus neem die las wat ons moes sleep, weg. Nou kan ons in God se oë kyk sonder om skuldig te voel.

Deur Jesus se toedoen is ons vry. Daarom moet ons nou so gaan leef. Dankbaarheid moet uit ons stroom en ander moet dit aan hulle lywe voel. Laat ons só lewe dat ander ook sal smag om sonder bagasie en skuld te lewe en mag hulle ook na Jesus draai.

Teks

Kolossense 1:12-14

Om oor na te dink

Sleep jy onnodige bagasie saam?

Glo jy dat Jesus die pak wat jy verdien namens jou kom vat het?

Hoe moet jy nou maak?

Gebed

Here, U liefde vir ons is te groot om te verstaan. Dankie dat U die stuk sonde-bagasie van my skouers kom lig het en my vrygemaak het van die straf wat sonde verdien. Mag my lewe getuig van dankbaarheid teenoor U. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek